Nieu-Seelandse afsondering onregmatig, maar geregverdig – hof

‘n Ma en dogter stap met maskers aan op ‘n strand in Wellington, Nieu-Seeland. (Foto: Li Qiaoqiao/Xinhua/IANS)

Dit is nie net in Suid-Afrika waar die afsonderingsregulasies betwis word nie.

ʼn Hof in Nieu-Seeland het beslis dat die eerste nege dae van daardie land se streng Covid-19-afsonderingsmaatreëls onregmatig – maar geregverdig – was.

Drie hooggeregshofregters het Woensdag in Wellington só beslis nadat Andrew Borrowdale die afsonderingsregulasies, wat op 26 Maart in werking gestel is, in die hof betwis het.

Die regters het bevind Nieu-Seelanders was nie wetlik verplig om tot 3 April tuis in hulle “borrels” te bly nie.

“Pleks daarvan het die eerste minister [Jacinda Ardern] en ander amptenare deur verskeie openbare aankondigings sedert 23 Maart dié verpligting op mense geplaas.”

Die aankondigings het beteken sekere regte en vryhede is ingeperk, veral die reg op vryheid van beweging, asook die reg op vreedsame byeenkomste en assosiasie.

Nieu-Seeland se eerste minister, Jacinda Ardern. (Foto: Mark Mitchell/New Zealand Herald via AP)

Eers toe ʼn tweede bevel op 3 April aangekondig is, het die beperkings wetgewing geword.

Die regters het egter bevind die maatreëls was in daardie stadium ʼn “nodige, billike en ewewigtige reaksie op die Covid-19-krisis”.

Die regters het Borrowdale se ander eise oor onder meer noodsaaklike dienste van die hand gewys.

David Parker, Nieu-Seeland se prokureur-generaal, het gesê dit is gerusstellend dat dié aansoeke van die hand gewys is en dat die wetlikheid van die ander bevele bekragtig is.

Hoewel die hof bevind het daar was in die eerste nege dae van die afsondering ʼn skending van die Handves van Regte, is die gebreke daarin reggestel, het Parker gesê.

Die hofuitspraak kan ʼn uitwerking hê op klagte wat tydens die eerste nege dae van die afsondering teen mense aanhangig gemaak is, maar die regters het bevind dit lyk of min, indien enige, vervolgings daardeur geraak gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jr ·

Dis nou n Eerste wêreld land wat sy klagtes in ñ intelligente professionele manier uit sorteer. Nie soos hierdie staat gekaapte judiciary in Funnyfarm SA

Frannie ·

Maskers op die strand slaan my dronk. Die strande is myns insiens seker die veiligste plek waar jy kan wees. Die wind waai die virus weg, waarvoor beter kan jy vra. Common sense word lykmy ook deur die virus aangetas.

Francois Le Cochon ·

Die virus is in jou spoeg. Die wind waai jou spoeg en iemand tot 10 meter van jou kan jou spoeg inasem as jy nie ‘n masker dra nie. Strande is nie so veilig sonder ‘n masker as wat jy dink nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.