Nieu-Seelandse grense weer oop vir Kiwi’s

Geliefdes herenig by die lughawe in Auckland, Nieu-Seeland. (Foto: Auckland Airport/Twitter)

Die trane het behoorlik Maandag by lughawens in Nieu-Seeland gevloei toe Nieu-Seelanders wat weens die Covid-19-pandenie byna twee jaar lank in die buiteland gestrand was, eindelik toegelaat is om huiswaarts te keer.

Die land het nou van sy streng inperkingsreëls, waaronder verpligte hotelkwarantyn, opgehef. Dié vereiste is reeds laat vaar vir Nieu-Seelanders wat Maandag uit Australië aankom en sal vanaf Vrydag vir Nieu-Seelanders vanuit ander lande ook geld.

Die eerste minister, Jacinda Ardern, sê die verandering is rede om fees te vier, veral vir die tienduisende Nieu-Seelanders oorsee wat graag wil terugkeer huis toe.

Nieu-Seelanders wat in die buiteland woon, moes tot dusver ten duurste vir tien dae in ’n hotel isoleer indien hulle hul tuisland wou binnekom.

Aankomelinge hoef voortaan nie eens meer self te isoleer soos daar oorspronklik beplan is nie.

Die Nieu-Seelandse regering beplan ook om die gefaseerde heropening van die grens vir alle reisigers te bespoedig.

Adern sê die vinnige verspreiding van die Omikron-variant onder Nieu-Seelandse gemeenskappe het beteken dat die aanmelding van Covid-19-gevalle by die grens afgeneem het, waarna die afsonderingsbeperkings dus vroeër opgehef kon word.

“Elke keer as ons ’n beduidende verandering in die pandemie sien, beweeg ons baie vinnig om veilig aan te pas wat ons doen.”

Streng grensbeheer was tot dusver ’n belangrike deel van Nieu-Seeland se sukses wat die beperking van die koronavirus betref. Dié land het ’n bevolking van vyf miljoen, maar het slegs 56 sterftes weens Covid-19 aangeteken.

Die uitbreking van die Omikron-variant het wel die afgelope paar weke toegeneem, met 14 657 nuwe gevalle wat Maandag aangemeld is. Nieu-Seeland het egter ’n baie hoë inentingskoers (95%) en Ardern meen dit bied landsburgers genoegsame beskerming teen die virus.

Australië het ’n week gelede sy grense vir ingeënte toeriste oopgestel nadat die land in 2020 van die strengste Covid-19-reisbeperkings ter wêreld ingestel het in ’n poging om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan.

Roerende tonele het toe ook by dié land se internasionale lughawens afgespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Dis skokkend hoe die deugde van Adern as die die liefling van die linkses besing word. Sy is ‘n tiran, net soos Trudeau in Kanada, wat Covid as ‘n magsvergryp kans beskou het en ‘n gulde geleendheid om die pad na ‘n welsynstaat te bespoedig.

Treurwilger ·

Die twee lande Doer Onder se oorreaksie op die “pandemie” het soms aan waansin gegrens.
Glo nie die “nanny states”- status sal nadese ooit afgeskud word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.