Nigerië sê Boko Haram-leier kan dalk oorgee

Genl.maj. John Enenche, woordvoerder van die Nigeriese Weermag (Foto: @DefenceInfoNG/Twitter)

Die Nigeriese Weermag het gesê Abubakar Shekau, leier van die Boko Haram-terreurgroep, kan homself dalk binnekort oorgee.

Aldus die Daily Post in Nigerië het die weermag gesê Shekau se liggaamstaal, ná onlangse militêre optrede teen Boko Haram, dui daarop dat hy “binnekort die handdoek sal ingooi”. Dit is onthul deur genl.maj. John Enenche, woordvoerder van die Weermag, tydens ʼn perskonferensie in Abuja.

Enenche het egter benadruk dat daar geen amptelike kontak was met Shekau nie.

“As jy oor liggaamstaal praat, dan was die liggaamstaal daar. Weens die aanslag van die troepe, kan hulle nie verder wegkruip nie,” het hy gesê.

Dit kom ná die Nigeriese Weermag 105 Boko Haram-terroriste oor die naweek tydens ʼn operasie in Yobe doodgemaak het.

Die Premium Times het berig die waarnemende direkteur van skakelwese vir die Weermag, Sagir Musa, het in ʼn verklaring gesê die operasie het op die buitewyke van Buni Gari in Yobe plaasgevind. Die terroriste het glo ʼn groot aanval op die inwoners beplan.

Buni Gari is minder as 7 km van die 27 taakspan-brigade in Buni Yadi, waar die Nigeriese Weermag se Spesiale Magte-skool geleë is.

Musa het gesê die troepe van sektor 2 van Operasie Lafiya Dole, onder leiding van brig.genl. Lawrence Araba, het ʼn geloofwaardige wenk opgevolg wat tot die suksesvolle operasie gelei het.

Die soldate het ook beslag gelê op verskeie vuurwapens en ammunisie.

Die raad op internasionale betrekkinge het intussen berig Shekau het ʼn klankopname oor die koronavirus uitgereik ná ʼn lang radiostilte. In die opname voer hy aan internasionale maatreëls om die pandemie te bekamp is ʼn oorlog teen Islam, wat deur “bose magte” uitgevoer word. Hy verwerp sosiale distansiëring, die opskort van pelgrimstogte na Mekka en die waarskynlike wysiging van sekere Ramadaan-tradisies. Hy voer aan Moslems, uitsluitlik die volgelinge van sy ekstreme vorm van Salafi Islam, is immuun teen die virus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.