‘Nirvana-baba’ se saak geskrap

Spencer Elden in 2016. Hy hou die Nirvana-albumomslag vas waarop hy as baba verskyn het. (Foto: Facebook)

ʼn Kaliforniese regter het Spencer Elden, die man wat vroeër vanjaar die rockgroep Nirvana gedagvaar het vir seksuele uitbuiting nadat hy as baba op die albumomslag van die album Nevermind verskyn het, se saak op prosedurele gronde van die hofrol geskrap.

Die federale regter het Maandag die saak van die hand gewys nadat Elden se regspan versuim het om ʼn sperdatum na te kom om ʼn teenaansoek in te dien teen Nirvana se prokureurs, wat die saak wil laat vaar.

Elden (nou 30 jaar oud) se regspan het tot 13 Januarie om weer ʼn aansoek in te dien. Elden se prokureur, Robert Lewis, het Dinsdag in ʼn verklaring aan AFP gesê hulle gaan die aansoek “binnekort” bring.

“Ons is vol vertroue dat Spencer toegelaat sal word om met sy saak voort te gaan,” het Lewis gesê.

Elden is in 1991, toe hy vier maande oud was, kaal afgeneem in ʼn swembad waar hy reik na ʼn dollarnoot aan ʼn vishoek, ʼn foto wat een van die mees ikoniese albumomslae van alle tye geword het.

Die album Nevermind het uiteindelik 30 miljoen kopieë verkoop, met treffers soos “Smells like teen spirit” wat toetsstene van die Amerikaanse popkultuur geword het.

Luidens Elden se oorspronklike dagvaarding het nie hy of sy wettige voogde ooit toestemming gegee vir die gebruik van die foto nie.

Die albumomslag van Nirvana se ‘Nevermind’, wat in 1991 uitgereik is.

Volgens hofdokumente het Elden ook nooit enige vergoeding vir die foto ontvang nie en hy het minstens $150 000 (sowat R2,4 miljoen) geëis van elkeen van die rockgroep se oorlewende lede, Dave Grohl en Krist Novoselic, Courtney Love, die kurator van Kurt Cobain se boedel, die fotograaf Kirk Weddle, die kunsregisseur Robert Fisher en ʼn aantal bestaande of voormalige platemaatskappye wat die album oor die laaste drie dekades versprei het.

Die hofdokumente voer ook aan dat Elden aan “uitermatige en permanente emosionele stres” ly en dat hy gevolglik ʼn “lewenslange verlies aan inkomste” het.

Nirvana het in Desember in hulle mosie aangevoer dat die wet van verjaring meer as ʼn dekade gelede reeds verval het en aangevoer Elden se bewering dat die foto kinderpornografie is, is “nie ernstig nie”.

Elden het ook die albumomslag verskeie kere herskep, onder andere vir die album se 25ste herdenking. Weddle, die oorspronklike fotograaf, was ʼn vriend van sy pa, het die familie in 2008 aan NPR gesê.

Hulle het ʼn swempartytjie gehou waartydens Elden onder die water afgeneem is vir die rockgroep, wat toe nog onbekend was, se albumomslag. Elden se ouers is glo $200 (sowat R3 200) betaal vir die oorspronklike fotosessie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

AmY ·

Nee wat. Hy wil net ‘n vinnige paar dollars gemaak het.
Hy moet eerder sy ouers dagvaar.

Misky ·

Hy het gedink hy gaan lekker “pocket” en toe nou nie!!!! Jou ouers is betaal en die ooreengekome bedrag. Wees kwaad vir hulle as jy vir iemand wil kwaad wees. Watse permanente skade is aangerig?

Marius ·

Dis nou ‘n regte kansvater. Miskien moet hy eerder probeer om te werk vir sy geld.

Perdeby ·

Nou hoe sou hy toestemming gee as hy nog ‘n baba was? Die Amerikaners wil oral probeer om iemand te dagvaar om vinnig ‘n geldjie te maak, en dit is 30 jaar terug, dalk was daar nie sulke ooreekomste nodig gewees nie, vra jou ma!

Antonk ·

Hy het dan nie eers geweet hy word afgeneem nie,want hy was nog te klein en dis sy eie skuld dat hy konsuis aan sy senuwee ly ,want hy wys dan vir die hele wereld sy baba foto.Nou spot hulle hom.

Pablo ·

Seksuele uitbuiting. Daai gesig se alles. Het seker nooit n dag in sy lewe gewerk nie

Mieke ·

‘n Regte kansvatter…. “Nee heb je, en “ja” kan je krijgen” ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.