Nobelprys in Chemie vir kleinste masjientjies

Nobelprys vir Chemie 2016

Nobelprys vir Chemie 2016

Die Koninklike Sweedse Akademie vir Wetenskap het Woensdag die Nobelprys vir Chemie toegeken aan drie professore wat molekulêre masjiene ontwerp het.

Jean-Pierre Sauvage, Sir J. Fraser Stoddart en Bernard L. Feringa ontvang dié gesogte prys vir hul ontwerp en vervaardiging van dié klein masjientjies. Hulle het molekules met beheerbare bewegings ontwerp wat ʼn taak kan uitvoer wanneer energie bygevoeg word.

Dié ontwikkeling wys hoe miniaturisering van tegnologie tot ʼn revolusie kan lei. Hulle het chemie in ʼn nuwe dimensie ingelei.

Sauvage het in 1983 die eerste tree gegee tot ʼn molekulêre masjien toe hy twee sirkelvormige molekules kon verbind om ʼn ketting te vorm.

Stoddart het in 1991 die proses ʼn stappie verder geneem toe hy ʼn molekulêre ring deur ʼn dun molekulêre as kon vleg en gewys het hoe die ring op die as kon beweeg.

Feringa het in 1999 die eerste persoon geword wat ʼn molekulêre motor kon ontwikkel. Hy kon ʼn molekulêre rotorlem deurgaans in dieselfde rigting laat tol. Deur van molekulêre motors gebruik te maak, het hy ʼn glassilinder laat roteer wat 10 000 keer groter is as die motor en hy het ook ʼn nanomotor ontwerp.

In terme van ontwikkeling, is die molekulêre motor in dieselfde stadium as wat die elektriese motor in die 1830’s was toe wetenskaplikes verskeie tollende slingers en wiele gebruik het, onbewus daarvan dat dit uiteindelik tot elektriese treine, wasgoedmasjiene, waaiers en voedselverwerkers sou lei.

Molekulêre motors sal waarskynlik gebruik word in die ontwikkeling van nuwe materiaal, sensors en energiestoorstelsels. Klik hier om meer oor hul navorsing te lees.

Sauvage (72) is in Parys, Frankryk gebore. Hy is ʼn emeritusprofessor aan die Universiteit van Strasbourg en emeritusdirekteur van navorsing by die Nasionale Sentrum vir Wetenskaplike Navorsing in Frankryk.

Stoddart (74) is in Edinburgh in die Verenigde Koninkryk gebore. Hy is ʼn professor in chemie aan die Noordwestelike Universiteit in Evanston, Illinois in die VSA.

Feringa (65) is in Nederland gebore. Hy is ʼn professor in organiese chemie aan die Universiteit van Groningen in Nederland.

Maroela Media het vroeër berig die Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde is Maandag toegeken en die Nobelprys vir Fisika is Dinsdag toegeken.

Navorsing word gewoonlik eers dekades later deur Nobelprys-beoordelaars bekroon, om seker te maak dat dit die toets van tyd deurstaan

Elke Nobelprys se waarde is 8 miljoen krone (ongeveer R12,6 miljoen) en die wenners ontvang ook ʼn medalje en ʼn diploma tydens die oorhandigingseremonie op 10 Desember, die herdenking van Alfred Nobel se afsterwe in 1896.

Die Nobelprys vir Vrede word Vrydag toegeken en Ekonomie en Letterkunde word na verwagting volgende week aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.