Nobelpryswenner gehospitaliseer, vrou dood gevind

Eiichi (82) en Sumire Negishi (80) (Foto: Steve Scherer/Purdue University via AP)

Die vrou van ʼn Amerikaanse Nobelpryswenner van die deelstaat Illinois is Woensdag dood by ʼn stortingsterrein aangetref enkele ure nadat sy en haar man as vermis aangemeld is.

Eiichi (82) en Sumire Negishi (80) was volgens die Chicago Tribune glo op pad na die Chicago Rockford Internasionale Lughawe toe hul motor in ʼn diep sloot by die Orchard Hill-stortingsterrein naby Rockford beland en vasgesit het.

Luidens ʼn verklaring van die polisie is plaaslike owerhede omstreeks 17:00 (Amerikaanse tyd) na dié gebied ontbied nadat ʼn verbyganger bekommerd was oor die veiligheid van ʼn bejaarde man, later geïdentifiseer as Eiichi, wat glo in die strate gewandel het.

Eiichi is deur polisieowerhede na die hospitaal geneem waar vasgestel is dat hy vroeër saam met sy vrou as vermis aangemeld is. Die polisie het daarna ondersoekspanne ontplooi waarna Sumire se liggaam en die egpaar se motor by die stortingsterrein gevind is. Orchard Hill is sowat 13 km vanaf die lughawe.

Volgens ʼn verklaring wat die Negishi-familie uitgereik het, het Sumire aan Parkinson se siekte gely en het mediese kenners bevestig dat sy nie meer lank sou leef nie. Die familie sê die egpaar het vermoedelik gedisoriënteerd geraak en toe aan erge skok gely.

“Ons is verpletter oor die verlies van ons geliefde ma en vrou [vir ons pa], Sumire Negishi, wat naby die einde van haar stryd met Parkinson se siekte was. Sy het gereis saam met haar lewenslange eggenoot, Eiichi, wat vermoedelik aan akute verwarring en skok gely het,” lui die verklaring.

Mitch Daniels, hoof van Purdue University waar Eiichi gepraktiseer het, het in ʼn verklaring gesê Sumire was vir haar man sy hele loopbaan lank ʼn steunpilaar.

“Purdue University het ʼn dierbare vriendin verloor met die dood van Sumire Negishi. Sy het haar man ondersteun in sy loopbaan wat ʼn geweldige bydrae tot die wetenskap gemaak het en ook tydens die onderrig en opleiding van nuwe generasies se topwetenskaplikes. Dit blyk dat Parkinson se siekte en die verwarring waaraan sy gely het, beide bygedra het tot die tragiese gebeure.”

ʼn Nadoodse ondersoek is voltooi, maar die uitslag van dié ondersoek is nog nie bekend gemaak nie. Amerikaanse polisieowerhede sê daar word egter geen vuilspel vermoed nie.

Eiichi het in 2010 die Nobelprys vir Chemie gewen vir sy werk met kruisverbindings in organiese sintese. Die Negishi-kruisverbinding is na hom vernoem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.