Nóg 27 jaar tronkstraf vir Alex Murdaugh

Alex Murdaugh saam met sy vrou Maggie en seun Paul (Foto: Skermgreep uit Netflix-lokprent)

Alex Murdaugh, die bekende prokureur van die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina wat vroeër vanjaar skuldig bevind is aan die moord op sy vrou en seun, is vandeesweek ʼn verdere 27 jaar tronkstraf opgelê.

Hierdie keer vir finansiële misdade.

Murdaugh (55) het vroeër vandeesmaand as deel van ʼn pleitooreenkoms skuld beken op 22 aanklagte wat verband hou met bedrog en geldwassery.

Die hof het bevind dat Murdaugh miljoene dollar van sy prokureursfirma gesteel het én versuim het om honderde duisende dollar se inkomstebelasting te betaal. Dié geld is deur Murdaugh gebruik om persoonlike uitgawes soos lenings en kredietkaartskuld mee te delg, berig BBC.

Murdaugh het sy vrou, Maggie, en sy seun, Paul, op 7 Junie 2021 vermoor nadat hy besef het dat sy jarelange plundertog van miljoene dollar van sy prokureursfirma en van kliënte om vir sy verborge opioïed-verslawing te betaal, op die punt was om bekend te word.

Murdaugh dien reeds twee lewenslange vonnisse (sonder die moontlikheid van parool) uit vir die moord op sy vrou en seun.

Die bykomende 27 jaar vir sy finansiële misdade sal onafhanklik van die twee moordvonnisse uitgedien word.

Sommige van slagoffers van wie Murdaugh gesteel het, het vandeesweek in die hof getuig.

“Jy het gelieg, jy het verneuk, jy het gesteel en jy het my en my familie en almal anders verraai. En jy het dit gedoen ten koste van my ma se dood,” het Tony Satterfield, seun van Gloria Satterfield, in die hof gesê.

Gloria Satterfield was baie jare lank die Murdaughs se huishoudster voordat sy weens ʼn val by die gesin se huis gesterf het. Murdaugh het Gloria se familie ná haar dood aangesê om hom te dagvaar sodat ʼn versekeringskikking aan hulle uitbetaal kan word. Die gesin het egter nie ʼn sent van daardie geld ontvang nie.

Murdaugh het ook dié geld gebruik om verskeie kredietkaarte en lenings af te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ny ·

Ek het die hele storie op Netflix gekyk. Kan nie glo hy vermoor sy vrou en seun net omdat hy bang was die firma gaan skade ly nie….

Juanita ·

AS dit in ons land was sou hy nog op vrye voet gewees het met geen hof datum.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.