Nóg 8 vas oor liggame in vragmotor

‘n Lugofoto wys die toneel in die suidooste van Engeland waar die liggaame van 39 mense agterin ‘n vragmotor gevind is. (Foto: AP)

Die polisie in Viëtnam het nog agt verdagtes in hegtenis geneem in verband met die liggame van 39 Viëtnamese burgers wat verlede maand agter in ʼn vragmotor in die suidooste van Engeland gevind is.

Volgens die polisie is die agt verdagtes Sondag in hegtenis geneem in verband met die organiseer van die smokkel van mense oorsee.  Die uitgebreide internasionale ondersoek na wat na mensehandel lyk, duur voort.

Maroela Media het vroeër berig paramedici het op 23 Oktober die vragmotor in die Waterglade-nywerheidspark in Grays, ʼn dorp nagenoeg 40 km buite Londen, gevind.

Die Britse polisie het Vrydag bevestig al 39 slagoffers in die vragmotor is Viëtnamese burgers. Hulle het aanvanklik gesê die slagoffers is van China, maar gesinne van Viëtnam het die owerhede daar gekontak uit kommer oor vermiste familielede.

Die Britse polisie het reeds verlede maand die 25-jarige Maurice Robinson van Noord-Ierland aangekla van 39 aanklagte van strafbare manslag en sameswering tot mensehandel. Die owerhede beweer dat Robinson die vragmotor na Purfleet in Essex bestuur het waar hy die houer vol mense opgelaai het wat met ʼn veerboot van Zeebrugge in België aangekom het.

Britse owerhede werk steeds onverpoos om die oorskot te identifiseer en werk nou saam met amptenare in Viëtnam om inligting te probeer kry oor die mense wat deur hul gesinne as vermis aangemeld is en vermoedelik onderweg na Engeland in die vragmotor omgekom het.

Die slagoffers, 31 mans en agt vroue, het glo mensehandelaars betaal vir hul vervoer na Engeland.

Die Viëtnamese gemeenskap in Londen het oor die naweek ʼn waak gehou ter ere van die slagoffers wat vermoedelik toevlug in Engeland wou gaan soek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Kan nie dink die skok om ‘n vragmotor oop te maak, en 39 liggame te vind! Maar as dit by mense handel kom, vir elke tien vat probeer deur kom, word seker net een vasgetrek?

Feite ·

Uiters tragies dat desperate mense so uitgebuit word deur gewetenlose swendelaars en dan op so n manier moes sterf.

Mel. ·

Die vrou van SA wie se seun weggeraak het in vietnam wat hul gesê het hul glo hy is vir organ doning gebruik dalk moet hul ook kyk daar kyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.