Nog aardbewings op Lombok; dodetal styg steeds

Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati

Die Indonesiese eiland Lombok is Donderdag deur ʼn derde aardbewing getref.

Die sterk naskok van 5,9 het paniek gesaai, verdere skade aangerig, modderstortings tot gevolg gehad en nog beserings veroorsaak. Die dodetal ná Sondag se reuse-aardbewing het intussen tot meer as 300 gestyg.

Volgens die regering is die amptelike dodetal nou 319 ná Sondag se aardbewing van 7. Die dodetal sal na verwagting verder styg aangesien reddingswerkers steeds besig is om in die puin na oorlewendes te soek. Meer as 68 000 huise is vernietig en nagenoeg 270 000 mense is dakloos gelaat.

Foto: AP Photo/Firdia Lisnawati

Die eerste aardbewing wat op 29 Julie voorgekom het, het die lewe van 16 mense geëis. Daar word ook nog tydelike skuilings opgerig vir die tienduisende inwoners wat dakloos gelaat is terwyl water, kos en mediese voorraad met vragmotors na die haweloses aangery word.

Indonesië, die wêreld se grootste eilandgroep, is kwesbaar vir aardbewings weens sy ligging in die sogenaamde “ring van vuur” in die Stille Oseaan waar kragtige aardbewings en vulkaniese uitbarstings algemeen is.

In Desember 2004 het ʼn massiewe aardbewing ʼn ent weg van die Sumatra-eiland ʼn tsoenami veroorsaak wat die lewe van 230 000 mense in 12 verskillende lande geëis het. Meer as 160 000 mense is in Indonesië dood en die meeste van hierdie sterftes het in Aceh voorgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.