Nóg betogings dreig in Hongkong oor uitleweringswet

Sowat een miljoen mense het opgeruk vir die betoging in Hong Kong teen die uitleweringswetsontwerp. (Foto: @victory2020/Twitter)

Die organiseerders van die afgelope naweek se betogings in Hongkong het Maandag ʼn beroep op inwoners gedoen om dié week weg te bly van die werk en verder te betoog teen ʼn omstrede nuwe wetsontwerp wat uitlewering aan China moontlik sal maak.

Ten spyte van gister se byeenkoms het Hongkong se leier, Carrie Lam, gesê die regering gaan voort met ʼn stemming oor die wetsontwerp wat sy beskryf het as ʼn “baie belangrike stuk wetgewing” wat skuiwergate in bestaande wetgewing gaan toemaak.

Die wetsontwerp word weer Woensdag gedebatteer.

Staatsbeheerde Chinese media het intussen “buitelandse magte” daarvan beskuldig dat hulle Hongkong probeer destabiliseer en sê betogers is blote “pionne” wat deur die opposisie en sy “buitelandse bondgenote” gebruik word om die regering se geloofwaardigheid te ondermyn.

“Sommige buitelandse magte gryp die geleentheid aan om hulle eie planne te bevorder om China skade te berokken deur skade in Hongkong te veroorsaak,” het die China Daily in sy redaksionele kommentaar gesê.

Fernando Cheung, voorsitter van die Arbeidersparty, het vir ʼn algemene staking in Hongkong se maatskaplike welsynsektor gevra, terwyl talle sakeondernemings op sosiale media aangedui het dat hulle vandag gesluit gaan wees.

Die organiseerders, wat deur die koalisiegroep, Civil Human Rights Front, verteenwoordig word, sê hulle kan moontlik vra vir verdere stakings.

Claudia Mo, ʼn lid van die wetgewer, het aan verslaggewers gesê talle inwoners van Hongkong is vies oor Lam se reaksie op gister se betogings. Nagenoeg een miljoen mense het daarvoor opgeruk.

“Ons vertrou net mooi niks van dié proses nie,” het Mo gesê, terwyl sy ʼn beroep op Lam gedoen het om die wetsontwerp te laat vaar.

“Gee Hongkong ruimte om asem te haal. Sy stoot Hongkong na die randjie van ʼn afgrond en niemand wil dít hê nie.”

Die wetsontwerp sal Hongkong toelaat om verdagtes aan lande uit te lewer met wie geen formele uitleweringsooreenkomste bestaan nie. Dit sluit China in.

Die Hongkongse regering sê hy het veiligheidsmaatreëls in die wetsontwerp ingeskryf en dit aangepas om net betrekking te hê om misdade waarvoor ʼn vonnis van sewe jaar of meer opgelê kan word. Elke saak sal op meriete oorweeg word, voer die regering aan.

Kritici en betogers hou vol dis nie goed genoeg nie.

Talle vrees China se regstelsel: ʼn stelsel met ʼn hoë vervolgingskoers, ʼn reputasie dat hy burgers vir politieke en geloofsredes vervolg en waarin die doodstraf geld. Hulle is ook bekommerd dat dit Hongkong se aansien as een van die vryste plekke in Asië skade kan berokken.

Die kommer was groot genoeg om ʼn miljoen Hongkongers te mobiliseer om Sondag teen die wetsontwerp te laat betoog.

Hongkong, ʼn voormalige Britse kolonie, is in 1997 weer onder Chinese bewind geplaas. Die beginsel van “een land, twee stelsels” geld sedertdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chinesecolonizers ·

Die chinese is besig om die omliggende lande te koloniseer onder almal selfs die VN se neuse. Waar is Tibet? Waar is Taiwan? Nou HongKong? Wie is volgende?

Chinesecolonizers ·

Chinese is besig om al die omliggende lande te koloniseer onder almal, selfs die VN, se neuse. Waar is Tibet? Waar is Taiwan? Nou Hongkong? Wie is volgende?

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet ons China se hulp kry met wetgewing oor plaasmoorde en staatskaping! Lyk my hulle vat nie bollie van Kabouters nie. SA se Soustrein is oorvol van hulle!!!

Dries du Toit ·

Miljoen betogers en geen ongevalle of brandende bande nie. Hulle moet kom leer betoog in verfoeilike SA

Pieter ·

Ek wonder net hoe goed en regverdig is die hong kongse regstelsel my kind het die sevens rugby gaan kyk toe was hulle in n kuier plek toe word hulle gearesteer vir die roof van n beursie hulle was vir 4dae in die tronk voor hulle borg gekry het hulle het 6weke gesukkel om terug te kom hy moes n aan soek in die hoog geregshof gebring het toe moes hy 148 000 hong kong dollars betaal as borg hulle het in n hotel gebly wat nie goed koop is nie hulle moes een van die beste prok daar kry wat ook nie goed koop is nie hy het n besigheid in suid afrika hy het 40 mense wat vir hom werk almal van hulle het gesinne wat van hom af hanklik is die hart seer van die hele ding is ek ken my kind ek ken sy hart almal wat hom ken hier weet wie en wat hy is hy gee geld vir siek kinders hy gee geld vir bejaardes hy self het ook n gesin ons regering het net mooi niks gedoen om te help nie nou wonder ek net hoekom sal iemand wat geld het hong kong toe vlieg om n beursie daar te gaan roof hy kon dit mos hier gedoen het hulle moet nou terug gaan vir die hof saak nou wonder n mens net hoe regverdig is hulle regstelsel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.