Nog betogings oor Griekse treinramp

Treinramp in Griekeland (Maart 2023) (Foto: Sakis Mitrolidis/AFP)

Betogers het Saterdag weer opgeruk om teen die oorsaak van Griekeland se ergste treinramp te betoog.

Duisende betogers het al die strate ingevaar sedert Dinsdag se ongeluk tussen ʼn vragtrein en ʼn passasierstrein die lewens van minstens 57 mense geëis het.

ʼn Stasiemeester, wat in die ongeluk geïmpliseer word, se hofsaak is met ʼn dag uitgestel en openbare woede neem toe oor die regering se versuim om spoorveiligheid te verseker.

Nog betogings het Saterdagaand plaasgevind en honderde mense het na Athene en Thessaloniki opgeruk.

ʼn Groep studente en spoorwegwerknemers sal Sondag in die hoofstad se Syntagmaplein langs die parlement bymekaar kom waar daar Vrydagaand opstootjies was.

ʼn Groep slagoffers is Saterdag begrawe en familielede sal Sondag ʼn gedenkdiens bywoon buite Larissastasie naby die toneel van die ramp.

“Wat gebeur het was nie ʼn ongeluk nie, dit was ʼn misdaad,” sê betoger Sophia Hatzopoulou (23), ʼn student in Thessaloniki. “Ons kan nie toekyk dat dit gebeur en onaangeraak bly nie.”

Minstens nege studente wat aan Thessaloniki se Aristoteles-universiteit studeer is van diegene wat in die ramp omgekom het. Die trein het hoofsaaklik studente vervoer wat van ʼn langnaweek teruggekeer het.

Die stasiemeester by Larissa, wie se naam nie bekendgemaak is nie, het aanspreeklikheid aanvaar. Die twee treine het ʼn paar kilometer lank op dieselfde spoor gery.

Die 59-jarige man sou Saterdag in die hof verskyn het op aanklag van strafbare manslag, maar sal nou Sondag in die hof verskyn, het sy prokureur Stefanos Pantzartsidis gesê.

As hy skuldig bevind word kan hy lewenslange tronkstraf opgelê word, maar Pantzartsidis voer aan daar is ander faktore wat in ag geneem moet word.

Die openbare uitsaaier ERT het berig die stasiemeester is slegs 40 dae tevore in die pos aangestel, en ná slegs drie maande se opleiding. Hy het glo vier dae lank by die stasie gewerk sonder ʼn toesighouer, aldus die Kathimerini Daily, ondanks die feit dat dit ʼn langnaweek was met hoë aanvraag en swaar spoorverkeer.

Ondersoekbeamptes oorweeg glo ook strafregtelike aanklagte teen die bestuur van die treinoperateur, Hellenic Train, aldus regsbronne.

Die polisie het beslag gelê op klanklêers en ander items tydens ʼn klopjag by Larissa-stasie, het ʼn regsbron aan AFP gesê.

Die regering het ook ʼn komitee aangestel om die oorsake van die ongeluk te bepaal.

Kostas Genidounias, hoof van die treindrywersvakbond OSE, het gesê hulle het vantevore die owerhede gewaarsku oor veiligheidskwessies op die spoorlyn waar die ongeluk plaasgevind het.

Vakbondleiers by Hellenic Train het drie weke gelede weer alarm gemaak. “Ons gaan nie wag vir ʼn ongeluk om te gebeur om te sien dat die verantwoordelike persone krokodiltrane stort nie,” het hulle in daardie stadium gesê.

Honderde mense het Vrydag ʼn minuut lank stilte gehou buite die Griekse parlement, maar oproerpolisie en ʼn klein groepie betogers het later in sentraal-Athene gebots.

By die betoging by Syntagamaplein het beamptes traangas en skokgranate op betogers gevuur toe hulle klippe en petrolbomme gegooi het, het ʼn AFP-verslaggewer berig.

Betogers het Donderdag ook klippe en petrolbomme gegooi by die betoging in Thessaloniki.

Griekeland se treindienste is Donderdag tot stilstand gedwing weens stakende werkers. Hulle voer aan wanbestuur van die netwerk het bygedra tot die noodlottige ongeluk. Die staking duur oor die naweek voort.

Opruimingswerk het Saterdag voortgeduur. Tegniese spanne deursoek nog die puin en verwyder die treinwaens van die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.