Nóg bewyse dat skole maar kan heropen

Senior studente sit agter plastiekafskortings by Jeonmin Hoërskool in Daejeon, Suid-Korea. (Foto: Kim Jun-beom/Yonhap, AP)

Die nasionale onderwysdepartement, vakbonde, skoolbeheerliggame en gemeenskapsorganisasies in Suid-Afrika het die afgelope weke koppe gestamp oor die heropening van skole. Dit raak nou toenemend duidelik dat jong kinders ʼn uiters beperkte rol in die verspreiding van die koronavirus speel. Die vraag kan selfs gevra word of dit die regte keuse in verskeie lande was om skole vir twee maande te sluit.

Die minister van basiese onderwys spreek die land na verwagting Sondagmiddag toe oor die heropening van skole op Maandag, 8 Junie.

Aan die begin van April was meer as 40% van die wêreld se skoolgaande leerders weens inperkingsmaatreëls tuis. “Die invloed hiervan op kinders se fisieke en emosionele gesondheid sal sekerlik nog nagevors word, maar dit is reeds duidelik dat die sluiting van skole enorme ekonomiese gevolge wêreldwyd veroorsaak het, met ouers wat nie kon terugkeer werk toe nie terwyl veral kleiner kinders moes tuisbly,” sê Jaco Kleynhans, Solidariteit se hoof van internasionale skakeling.

In Italië is bevind dat kinders tydens die inperking ernstige gewigstoename ervaar het. In sommige Amerikaanse deelstate is dieselfde reeds aangemeld. “ʼn Moontlike rede hiervoor is dat kinders sport deur skole beoefen en die verlies aan hierdie fisieke oefening vir tot 15 weke het moontlik ʼn invloed op die fisieke gesondheid van kinders gehad,” sê Kleynhans.

In Duitsland het owerhede aangedui dat hulle ook bekommerd is oor die emosionele welstand van kinders, veral weens kommer oor eksamens wat uitgestel is en die verlies aan klastyd. Inperkingsmaatreëls het miljoene kinders boonop toegang tot voedingskemas en maatskaplike dienste ontsê.

Geen verband tussen heropening van skole en verspreiding van Covid-19

Studente wag vir ʼn klas om te begin by Jeonmin Hoërskool in Daejeon, Suid-Korea. (Foto: Kim Jun-beom/Yonhap, AP)

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie het verskeie lande spoedig skole gesluit uit vrees dat die virus maklik deur skole kon versprei.

Denemarke was die eerste land in Europa waar skole gesluit is. Dié land het egter kleuter- en laerskole in die middel van April heropen. Kort daarna het Oostenryk, Noorweë, Hongarye en ander Europese lande gevolg. In geen van hierdie lande kon enige bewyse gevind word dat die verspreiding van die virus deur die heropening van skole verhoog is nie. Inderwaarheid het die verspreiding van die virus in al hierdie lande sedert die opening van skole afgeneem.

In Swede is skole vir alle kinders jonger as 16 nooit gesluit nie. Hoewel daar nie behoorlike data oor die voorkoms van die koronavirus onder skoolkinders in Swede bestaan nie, kon daar tot dusver geen gevalle gevind word waar die virus in ʼn skool versprei het nie.

Daar is egter ook lande waar deeglike navorsing hieroor gedoen is. In Australië het die Nasionale Sentrum vir Immuniteitsnavorsing 15 skole in die deelstaat Nieu-Suid-Wallis vanaf Maart tot middel April vir die verspreiding van die virus bestudeer. Volgens die data wat die sentrum bekend gemaak het, het nege personeellede en nege leerders in die 15 skole Covid-19 onder lede gehad. Hulle was met 735 medeleerders en 128 onderwysers en ander personeel in aanraking. Volgens die navorsing het hulle nie ʼn enkele persoon met die virus aangesteek nie. Een laerskoolleerder en een hoërskoolleerder het wel tydens die studie die virus opgedoen, maar daar kon nie bepaal word of hulle die virus binne of buite die skool opgedoen het nie.

Deeglike navorsing hieroor is ook in Italië, Ysland en China gedoen, waar die datastelle keer op keer bewys dat min kinders die koronavirus opdoen. Dié wat dit wel opdoen, toon hoofsaaklik ligte simptome en die oordrag van die virus vanaf ʼn kind na enige ander persoon vind byna nooit plaas nie.

Die beste navorsing tot dusver is egter vandeesweek in Nederlands Tijdschrift Voor Geneeskunde gepubliseer. ʼn Ondersoek wat deur die Nederlandse Nasionale Instituut vir Gesondheid (RIVM) gedoen is, het aan die lig gebring dat kinders jonger as 12 jaar bykans geen rol speel in die oordrag van die koronavirus nie. Die resultate wat in die mediese tydskrif gepubliseer is, het die siekte in 54 gesinne met 227 kinders gemonitor. Terwyl enkele kinders wel besmet is, het daar bykans geen oordrag vanaf ʼn kind na ʼn ander persoon plaasgevind nie. Volgens die studie word die virus hoofsaaklik tussen volwassenes oorgedra.

“Die probleem met skole wat gesluit word, is dat ouers met kleiner kinders dan moeilik werk toe kan gaan,” sê Kleynhans. Inperkingsmaatreëls oor die hele wêreld wat mense ook verhoed het om hul kinders deur ʼn kinderoppasser te laat versorg, het die probleem vererger. Dít terwyl bykans alle navorsing wat tot dusver gedoen is, bewys dat dit juis die jongste kinders is wat geen risiko bied vir die verspreiding van die virus nie.

Kleynhans sê die grootste ekonomiese skade is reeds aangerig en baie lande gaan sekerlik nog wens dat hulle nie skole vir so lank gesluit het nie. “Dit raak egter nou tyd dat die regte ding gedoen moet word en dat alle skole, en veral kleuter- en laerskole, onmiddellik heropen word sodat ouers na hul werk kan terugkeer en kinders weer al die fisieke, emosionele en ander voordele van skoolgaan kan ervaar.”

Hy sê Suid-Afrikaners moet begin rustig raak en besef dat die voordele wat kinders by skole kry, groter is as die byna weglaatbare risiko wat die koronavirus vir kleiner kinders inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Boerkind

Ons moes nooit toegesluit gewees het nie… Die huidige “lock down” in townships waar dit nie toegepas kon word nie, het mos bewys dat die beste is om die “virus” op te doen, ‘n natuurlike weerstand op te bou en gesond te word…. Dit is wat ons eie top mediese kenners ook gesê het, maar China, Kuba, Gates en WHO het GEPRAAT!!

Anel

En solank mens verhoed word om vrylik asem te haal kan die liggaam nie die nodige kieme verwerk en natuurlike imuniteit op bou nie. Ek wil nou sien hoe siek word mense sodra hulle nie meer hulle maskertjies dra nie. En dit gaan nie van die virus wees nie. Of gaan seker mense die goed vir die res van hul lewens dra uit vrees?

Willem

Die klomp narre luister nie na geleerde mense nie. Wat china en die kubane doen is reg. Hulle het n verskuilde agenda daarom stuur hulle daai patete kaap toe om te kom help met die virus. Wat weet hulle

Michael 1

Ek is nie n kenner op virusse nie maar ons deel almal een ding ons kinders is kosbaar en moet beskerm word ten alle koste

Francois

Ons kinders is kosbaar maar ons het ook n verantwoordelikheid om ons kinders te voed. Sonder skole kan ons nie teruggaan werk toe. Ek verkies om my kind skool toe te stuur en die 1% kans te vat dat hulle miskien siek kan word as wat ek my kind elke aand honger bed toe moet stuur