Nóg botsings by viering van Hongkong se onafhanklikheid

Betogers probeer Maandag by die Hongkongse wetgewer inbreek. (Foto: Jeff Cheng, HK01 via AP)

Botsings tussen polisielede en betogers in Hongkong het Maandag plaasgevind tydens die 22ste herdenking van die stad se onafhanklikheid. Britse heerskappy is op dié dag in 1997 in Hongkong beëindig.

Dertien polisiebeamptes is in die hospitaal opgeneem nadat hulle met ʼn ongeïdentifiseerde vloeistof, vermoedelik dreinskoonmaker, gespat is. Betogers het naby die stad se wetgewer en administratiewe sentrum saamgedrom, berig die South China Morning Post.

In ʼn ongekende stap het die regering sy hooffeesviering binnenshuis na die Hongkongse Konvensiesentrum in Wan Chai verskuif, van waar afgevaardigdes gekyk het na ʼn regstreekse uitsending van die vlaghysseremonie by die Golden Bauhinia-plein. Streng veiligheidsmaatreëls het gegeld en die polisie het buite gespook om betogers in bedwang te hou.

Die stadsleier, Carrie Lam, het ook weggebreek van tradisie en gepraat oor die lesse wat sy geleer het uit haar hantering van die nou opgeskorte uitleweringswetsontwerp, eerder as oor Hongkong se ontwikkeling in die nasionale konteks.

Stadsleier Carrie Lam tydens die amptelike feesvieringe. (Foto: Jacky Cheung/HK01 via AP)

Lam het ʼn ses minute lange toespraak gelewer waarin sy grootliks gefokus het op wat sy uit die politieke krisis geleer het waarin haar administrasie weens die wetsontwerp gedompel is.

Dit was Lam se eerste openbare verskyning sedert sy op 18 Junie ʼn openbare verskoning aangeteken het vir die omstrede wetsontwerp wat sou toelaat dat die stad verdagtes aan onder meer China uitlewer.

Hoewel Lam die wetgewing op 15 Junie opgeskort het, eis betogers dat dit heeltemal geskrap word.

“Ek gaan ʼn les leer en verseker dat die regering se toekomstige werk baie nader aan die versoeke, gevoel en menings van die gemeenskap is,” het sy gesê.

Vroeër vandag het sowat 10 betogers by die wetgewer in Hongkong probeer inbreek. Die groepie, omring deur ʼn skare van sowat 100 mense, het herhaaldelik ʼn inkopietrollie teen ʼn glaspaneel van die gebou gestamp, maar die polisie het dit by hulle afgeneem voordat hulle deur die glas kon bars.

Die groep het hulself met sambrele bewapen, ʼn taktiek wat betogers al in die verlede gebruik het om hulle teen die gebruik van pepersproei te beskerm.

Die onverwagte geweld het die begin van die jaarlikse optog, waaraan duisende mense gebruiklik deelneem, vertraag.

Die optog sou vanjaar na verwagting selfs groter as gewoonlik wees, weens die wydverspreide teenkanting teen die onlangse regeringsoptrede wat vrese verhoog het dat Hongkong se vryheid ingeperk gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries du Toit ·

Die wereld veg vir onafhanklikheid. Wanneer ons niks meer het om te verloor nie sal ons hopelik ook in opstand kom. Anders gaan ons net verdwyn as n eens trotse nasie aan die suidpunt van Afrika

Netso ·

Britte het darem oral gepeuter! Hoop hulle geniet die Indiër invloed wat hulle geskep het! Kry vir julle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.