Nog geen springstof in Air France-‘bom’

Die Air France-vliegtuig wat 'n noodlanding moes doen in Kenia nadat 'n verdagte pakkie aan boord Vlug 463 gevind is (20 Desember 2015)  Foto: AP Photo/Edwin Kana)

Die Air France-vliegtuig wat ‘n noodlanding moes doen in Kenia nadat ‘n verdagte pakkie aan boord Vlug 463 gevind is (20 Desember 2015) Foto: AP Photo/Edwin Kana)

Nog geen springstof is tot dusver in die verdagte toestel gevind wat daartoe gelei het dat ʼn Air France-vlug noodgedwonge in Mombasa, Kenia moes land nie.

Die toestel, wat in ʼn toilet op die vliegtuig gevind is, lyk soos ʼn boks met ʼn stophorlosie wat daaraan vasgemaak is, het ʼn polisiebeampte wat deel is van die ondersoek, maar anoniem wil bly omdat hy nie gemagtig is om met die media te praat nie, gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Boeing 777 Vlug 463 was onderweg van Mauritius na Parys toe die vlieëniers om 00:37 ʼn noodlanding by Moi Internasionale Lughawe versoek het.

“Die boks is uitmekaar gehaal en nog geen springstof is tot dusver gevind nie,” het die beampte gesê. “Die horlosie word ook ondersoek.”

Passasiers van Air France Vlug 463 verwyl hulle tyd by Moi Internasionale Lughawe in Mombasa, Kenia nadat hulle vliegtuig noodgedwonge moes land toe 'n verdagte toestel in 'n toilet aan boord gevind is Foto: AP

Passasiers van Air France Vlug 463 verwyl hulle tyd in ‘n hotel by Moi Internasionale Lughawe in Mombasa, Kenia nadat hulle vliegtuig noodgedwonge moes land toe ‘n verdagte toestel in ‘n toilet aan boord gevind is Foto: AP

Ses passasiers is ook oor die voorval ondervra. Een van die persone wat ondervra is, is die man wat die bemanning van die verdagte pakkie in kennis gestel het.

Daar was 459 passasiers en 14 bemanningslede aan boord en die vliegtuig het om 21:00 in Mauritius opgestyg. Alle passasiers is veilig ontruim en die toestel is uitgehaal.

Kenya-lugvaarowerheid het op sosiale media gesê dat geskeduleerde vlugte na Mombasa vertraag word, maar dat normale bedrywighede intussen hervat het.

Benoit Lucchini van Parys, Frankryk, een van die passasiers aan boord, het gesê die vliegtuig het stadig begin daal en die passasiers het besef iets is verkeerd. “Die personeel van Air France was wonderlik. Hulle het almal gekalmeer. Ons het nie geweet wat aangaan nie. Ons het ons veiligheidsgordels vasgemaak om in Mombasa te land, en ons het gedink dit was ʼn tegniese fout.”

Frankryk het ʼn noodtoestand afgekondig sedert terreuraanvalle op 13 November waartydens 130 persone gesterf het. Die Islamitiese Staat het erken hulle is aanspreeklik.

Twee Air France-vlugte van Amerika na Parys is op 18 November herlei weens bomdreigemente. Geen bomme is op die vlugte van Los Angeles en Washington DC gevind nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit is miskien simpel van my maar ek is onmiddelik suspisieus as n manlike of vroulike persoon met die lang rokke op dieselfde vlug is miskien is ek net te bevooroordeeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.