Nóg iemand dalk betrokke by Cleo se ontvoering

Cleo Smith (4) is ná 18 dae deur polisie in Wes-Australië gevind. (Foto: Facebook / Western Australia Police)

Die Australiese polisie ondersoek nou die moontlikheid dat nog ʼn persoon moontlik betrokke was by die ontvoering van die vierjarige Cleo Smith wat vroeër uit ʼn tent ontvoer en weke later in ʼn vreemdeling se huis gevind is.

Terence Darrel Kelly is in aanhouding nadat klein Cleo verlede week deur polisie uit sy staatsgesubsidieerde huis in Carnarvon in Wes-Australië gered is.

Speurders het vandeesweek na dié kusdorp teruggekeer om verdere ondersoek in te stel, berig BBC.

“Ons fokus is vandeesweek om vas te stel of daar nog iemand betrokke was. Dis hoekom ons steeds hier is,” het sers. Cameron Blaine aan verslaggewers by die dorp se lughawe gesê.

Blaine het ook ʼn beroep gedoen op plaaslike inwoners wat Kelly die afgelope weke gesien of enige kontak met hom gehad het, om na vore te kom.

Die polisie het aanvanklik gesê Kelly het vermoedelik alleen in die ontvoering opgetree en het geen verbintenis met Cleo of haar gesin nie.

The Daily Mail Australia het egter intussen berig die polisie probeer vasstel of ʼn vrou ná die ontvoering na Cleo omgesien het.

Bronne na aan die ondersoek het aan dié publikasie gesê Cleo het aan ondersoekers genoem dat ʼn vrou haar in Kelly se huis besoek en gehelp het om na haar om te sien. Die vrou het glo gehelp om haar aan te trek en haar hare te kam.

Die polisie het egter nie op dié berig kommentaar gelewer nie.

Maroela Media het vroeër berig Cleo was 18 dae lank vermis voordat sy verlede Woensdag omstreeks 01:00 (Australiese tyd) ongedeerd en alleen in Kelly se geslote huis gevind is.

Die kleuter is op 16 Oktober uit die tent wat sy met haar ouers en babasussie by die Blowholes-kampterrein gedeel het, ontvoer.

Die New Zealand Herald het intussen oor Kelly se moeilike kinderjare berig en vertel dat hy as tweejarige deur sy dwelmverslaafde ma in die steek gelaat is. ʼn Wildvreemde vrou het haar oor hom ontferm en hom grootgemaak.

Kelly is tans in aanhouding by die maksimumsekuriteitgevangenis in Perth, sowat 900 km suid van Carnavon, en sal na verwagting weer in Desember in die hof verskyn.

Hy word onder meer van “kinderdiefstal” aangekla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.