Nog lewendes uit puin van Taiwan-aardbewing gehaal

Foto: AP Photo/Wally Santana

Foto: AP Photo/Wally Santana

Terwyl die dodetal in Vrydag se aardbewing in Taiwan tot minstens 35 gestyg het, is nog ’n man en ’n vrou lewend uit die puin van ’n ineengestorte woonstelblok gehaal.

Die owerhede ondersoek nou die gehalte van die woonstelblok in Tainanstad, aangesien ’n aardbewing van 6,4 en 23 kilometer onder die oppervlak nie soveel skade behoort aan te rig nie. Onder die bewerings is dat selfs paraffienblikke as boumateriaal ingespan is.

Taiwan word gereeld deur aardbewings getref, en val op ’n verskuiwingsvlak wat deel van die sogenaamde “Pasifiese Ring van Vuur” uitmaak. Voortsettings van hierdie verskuiwingsvlak loop ook deur dele van Indonesië, en deur Nieu-Seeland se Suid-eiland en sluit uiteindelik by die verskuiwingsvlak wat om Antarktika loop aan.

Die hele gebied, veral tot by die Kermadec-eilandgroep sowat 1 000 kilometer noord van Nieu-Seeland, word deur gereelde groot aardbewings gekenmerk.

’n Aardbewing van 6,2 op die momentmagnitudeskaal het vandeesmaand hier voorgekom – een van die min aardbewings vanjaar wat sterker as 6 was. Die Kermadec-eilandgroep behoort aan Nieu-Seeland, en word dikwels as die land se noordelike bastion beskryf. Dit lyk statisties of die eilandgroep as ’n tipe buffer dien om Nieu-Seeland van die meeste erge aardbewings te vrywaar.

Foto: AP Photo/Wally Santana

Foto: AP Photo/Wally Santana

Sedert 1900 was daar 15 aardbewings van 7,5 of sterker in en om Nieu-Seeland. Hierteenoor was daar in dieselfde tydperk 40 aardbewings van 7,5 of sterker van die Kermadec-eilandgroep noordwaarts. Dié groter aantal aardbewings word veroorsaak deurdat die Australiese plaat noordwaarts aansienlik vinniger oor die Pasifiese plaat beweeg as verder suidwaarts.

Navorsing toon dat Nieu-Seeland weer deur ’n aardbewing van 7,5 op die Alpyne-verskuiwingsvlak getref kan word soos wat 170 jaar gelede gebeur het.

Die sterkste aardbewing wat nog in Nieu-Seeland gemeet is, was in 1931 toe ’n skudding van 7,8 by Hawke Bay gemeet is, en 256 mense die lewe gelaat het. Die aardbewing wat Christchurch in 2011 grootliks in puin gelê het, was ’n “skrale” 6,3.

Die sterkste aardbewing wat nog met instrumente in Taiwan gemeet is, was een van 8,1 in 1920, maar dis daarna tot 7,7 hersien.

Bronne: BBC.comUSGS en Earthquaketrack

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ekke ·

Ek is lief vir my taal, Afrikaans, maar ‘n naam is ‘n naam. Die skaal waarvolgens aardbewings se sterkte gemeet word se NAAM is Richter skaal. Moet asseblief nie poog om gevestigde name te “ver-Afrikaans” nie, dit is net onvanpas. Net so noem mens nie ‘n Johan, John, wanneer hy in Engeland sou geroep word nie, sy naam bly Johan.

Sune van Heerden ·

Dagsê Ekke

Suid-Afrika is een van die min lande wat nog die Richterskaal gebruik, en ook net ‘n aangepaste een. Die Richterskaal werk nie goed op groot aardbewings nie, en is ook nie akkuraat op aardbewings wat met die aarde se groot verskuiwingsvlakke verband hou nie. Die USGS (en die meeste lande) gebruik dus die Momentmagnitudeskaal (ʼn alternatiewe Afrikaanse vertaling sou “momentgrootteskaal” wees).

Omdat die lesing nie van die een na die ander omgereken kan word nie (verskillende aspekte word gemeet) is dit nie moontlik om die lesing in Richterskaal, Marconiskaal of enige van die ander oueres weer te gee as dit in momentmagnitudeskaal gemeet is nie.

Uit onkunde sal joernaliste dikwels nog die een as ʼn lesing op die ander aangee, soos tot taamlik onlangs, die SAUK. Dis egter ook reggestel, hoewel Richterskaal vir buitelandse aardbewings nog periodiek deurglip.

Wat betref jou verwysing na die transliterasie van eiename, sal dit natuurlik nie in Engels en Afrikaans plaasvind nie, aangesien ons dieselfde alfabet gebruik. Eiename word getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”. Die vergelyking tussen “John” en “Jan” is dus nie sinvol nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ekke ·

Sune. Ek aanvaar dat die moment magnitude skaal gebruik word. Maar is die verwysings na alle lesings in die artikel, insluitend die wat histories in Taiwan/Christchurch gelees is, ook in die moment magnitude skaal? Indien wel, vra ek om verskoning. Dan is die verwysing na die Richter skaal, definitief onvanpas.
As beide skale in die artikel gebruik word, is verwysing van beide benodig.
En dan laastens, as beide skale gebruik is, sal jou beskrywing van die verskille en/of ooreenkomste van die skale baie handig te pas kom vir die algemene leser wat nie die kennis dra nie. Dit is baie maklik om deurmekaar te raak met twee totaal en alle verskillende konsepte wat gebruik ter beskrywing van ‘n enkele gebeurtenis. In kort, mense mag dink die Richter en moment magnitude skaal is dieselfde ding. :-)

Sune van Heerden ·

Dagsê Ekke

Ek vra om verskoning dat ek nou eers op jou tweede navraag reageer.
Ek kan bevestig dat al die lesings in hierdie artikel slegs op die momentmagnitudeskaal geregistreer is. Indien ons lesings publiseer wat op die Richterskaal geregistreer is, sal ons dit só aandui.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

DPJ ·

Aardbewings, moord, roof, diefstal en plaasaanvalle alles hedendaagse verskynsels. Kom Here Jesus kom gou en red U volk van die elende

Albert Marais ·

@ Sune van Heerden:
Waar onder die son kom jy aan die woord “transliterasie”??? Behoort dit nie “vertaling” van name te wees nie??? Vra maar net. Soe!

Sune van Heerden ·

Dagsê Albert

Dankie vir jou navraag.
“Translitereer” is inderdaad die regte woord om te gebruik. “Translitereer” beteken om letters of lettersimbole uit een skrif of taal een vir een in ‘n ander taal weer te gee, dit is dus glad nie dieselfde as om teks te vertaal nie. “Vertaling” is om die betekenis van ‘n woord/uitdrukking/teks/ens. van een taal (die brontaal) in ‘n ander taal (die doeltaal) weer te gee.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.