Nog MTN-hoës bedank in Nigerië

Argieffoto

Argieffoto

MTN het die onmiddellike bedanking van sy Nigeriese hoof aangekondig te midde van die Nigeriese Kommunikasiekommissie se besluit om die selfoonmaatskappy se boete van $5,2 miljard te verminder.

Die MTN-groep het gesê Michael Ikpoki, die maatskappy se bedryfshoof Nigerië, asook Akinwale Goodluck, die Nigeriese hoof van regulering en korporatiewe sake, het albei met onmiddellike inwerkingtreding bedank. Die twee bedankings vorm deel van wydverspreide bestuursveranderinge deur die groep ter verbetering van sy bedryfstrukture en vermoë om aan regulasies te voldoen.

Maroela Media het vroeër berig die Nigeriese Kommunikasiekommissie het ʼn boete van VSA$5,2 miljard aan MTN in Nigerië uitgereik nadat die maatskappy versuim het om 5,1 miljoen ongeregistreerde intekenare te ontkoppel. MTN Nigerië is die groep se mees winsgewende filiaal met ongeveer 62 miljoen kliënte van Nigerië se 170 miljoen landsburgers. Die boete is intussen tot $3,4 miljard verminder.

Sifiso Dabengwa, MTN se uitvoerende hoof, het bedank kort nadat die maatskappy die boete opgelê is.

Die groep se herstrukturering sal beteken dat dit deur streeklyne bestuur word, naamlik Wes- en Sentraal-Afrika, Suid- en Oos-Afrika, die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Jyoti Desai, die voormalige hoof van inligting en tegnologie, sal die nuwe bedryfshoof van die groep wees en in Johannesburg gevestig wees. Hy sal aan Phuthuma Nhleko, die uitvoerende voorsitter, rapporteer.

Die voormalige hoof finansiële beampte van MTN Nigerië, Ferdi Moolman, sal nou as die bestuurshoof dien. Amina Oyagbola is die land se nuwe hoof van regulering en korporatiewe sake, asook MTN Nigerië se hoof van menslike hulpbronne.

“Die hersiene struktuur en versterking in leierskap sal [MTN se] bedryfstoesig verbeter en bestuursvermoë vergroot,” het Nhleko gesê. “Dit sal MTN in staat stel om sy strategie en visie te verwesenlik, terwyl ons steeds hoë bestuurstandaarde en kragtige risikovermindering handhaaf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.