Nóg ʼn aardbewing ruk Meksiko

ʼn Man word gered van onder die puin van ʼn gebou wat ineengestort het in Condesa in Meksikostad (19 September 2017). Foto: AP Photo/Pablo Ramos)

ʼn Aardbewing van 6,2 het Saterdag die suide van Meksiko geskud, enkele dae nadat ʼn aardbewing van 7,1 Dinsdag die lewens van minstens 296 mense geëis het.

Die soektog in Meksikostad na die oorlewendes van die aardbewing vroeër vandeesweek moes Saterdag opgeskort word uit vrees dat geboue waar die reddingsaksies aan die gang is nog verder ineen kan stort.

Luis Felipe Puente, hoof van Meksiko se burgerbeskermingsagentskap, het gesê die trillings Saterdag in Meksikostad was gematig en nie so erg soos Dinsdag se aardbewing nie. Reddingsaksies is egter in elk geval ter wille van werkers se veiligheid opgeskort. “Ons moet uiters versigtig wees met die beskadigde geboue, omdat daar die risiko vir ineenstorting is,” het Puente aan die televisienetwerk Azteca gesê.

ʼn Voertuig wat onder die puin van ʼn gebou beland het in Meksikostad nadat die gebou weens die aardbewing ineengestort het (19 September 2017). Foto: Xinhua/Fernando Ramirez (da) (ce)

Die United States Geological Survey (USGS) het gesê die jongste aardbewing was relatief vlak met die episentrum naby Juchitan, ʼn tropiese gebied in die staat Oaxaca wat erg deur ʼn aardbewing op 7 September geraak is.

Minstens 384 mense het vandeesmaand weens aardbewings in Meksiko gesterf. Saterdag het duisende mense, baie van hulle nog in hul nagklere, in die strate van Oaxaca en Meksikostad ingehardloop toe seismiese alarms afgegaan het kort voordat die aardbewing om 08:00 (plaaslike tyd) gevoel is.

“Ek het die alarm gehoor en saam met my familie na die grondvloer gehardloop,” het Sergio Cedillo (49), een van die inwoners van Meksikostad, gesê. Hy het gesê hy het gesit en kyk hoe reddingswerkers na oorlewendes van Dinsdag se aardbewing soek toe die alarms afgegaan het.

Plaaslike media het berig ʼn brug naby Juchitan het Saterdag heeltemal ineengestort nadat dit reeds deur die vroeëre aardbewing beskadig is.

ʼn Lugfoto van ʼn gebou in Meksikostad wat ineengestort het tydens die aardbewing (19 September 2017). Foto: Xinhua/Nikteha Cabrera (ce)

Minstens 52 geboue het Dinsdag weens die aardbewing ineengestort en talle opgeleide reddingswerkers en vrywilligers is sedertdien naarstigtelik besig om puin te verwyder op soek na oorlewendes. Owerhede het gesê ongeveer 20 000 huise is in Morelos en Puebla beskadig. Kantore, ʼn skool, ʼn fabriek en woonstelgeboue het ineengestort en duisende mense is dakloos gelaat.

Tot dusver is 60 mense van onder die puin van geboue gered, maar geen oorlewendes is in die afgelope 24 uur gevind nie. Ten spyte van die kwynende kans dat nog oorlewendes onder die puin gevind sal word, het werkers op verskeie tonele gesê hulle sal nie moed opgee indien daar die geringste moontlikheid is dat nog iemand gered kan word nie.

By ʼn ineengestorte gebou in die Roma-distrik het Angel Ortiz, ʼn vrywilliger, gewys na die aanduidings van hittewaarneming-toerusting wat oënskynlik ʼn aanduiding gegee het van tekens van lewe onder die rommel. “Daar is nog mense wat lewendig is daaronder,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Judy ·

Maroela Media Mexico…….dis verkeerd gespel in julle berig

Mariné Lourens ·

Dagsê Judy

Dankie vir jou kommentaar. Meksiko is ʼn wisselvorm. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word beide Mexiko en Meksiko in Afrikaans erken.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Frikkie (Nie pienk) ·

Jammer, Marinè, maar nie in my HAT nie. In myne is dit slegs Mexiko. Die bewoners word wel aangedui as Meksikane.

Leahim ·

Die wêreld is al so oorbevolk dit is n wonder dat aardbewings nie n gereelde verskyning regoor die aardbol is nie.

Stef ·

So jy reken die baie voete trap die seismiese plate uit posisie?

Mariné Lourens ·

Dagsê A J Botha

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word beide ‘Mexiko’ en ‘Meksiko’ as Afrikaanse spelling erken vir “Mexico”.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Juffie ·

Net ‘n interessante feit. Mexiko het die grootste konsentrasie “druglords en drug cartels” in die wêreld. Laat mens dink nê?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.