Nog ʼn aardbewing tref Turkye, Sirië

‘n Turkse vlag waai oor die puin van vernietigde geboue in Antakya, Hatay. (Foto: Hassan AYADI / AFP)

Nog ʼn aardbewing van 6,4 het Maandag die suide van Turkye en noordelike dele van Sirië geruk.

Die jongste aardbewing het die lewens van drie mense geëis en opnuut paniek gesaai nadat ʼn aardbewing vroeër vandeesmaand reeds 45 000 lewens in die twee lande geëis het.

Die Turkse minister van binnelandse sake, Suleyman Soylu, sê altesaam 213 mense is beseer en na hospitale geneem, terwyl reddingswerkers spook om nog mense wat onder puin begrawe is te red.

Dit terwyl meer as 130 mense in Sirië beseer is. Beskadigde geboue in dié land het ook ineengestort.

Die jongste aardbewing het die Turkse dorp Defne om 20:00 getref, maar diegene wat sowat 200 km ver bly, in die stad Antakya, het ook die skudding gevoel, asook die inwoners van Libanon.

Turkye se rampbestuuragentskap het op Twitter gesê dat nog ʼn aardbewing van 5,8 drie minute ná die oorspronklike aardbewing Maandag gevolg het. Die episentrum hiervan was in die Samandag-distrik in Hatay.

Nog twee skuddings van 5,2 elk is weer sowat 20 minute later gevoel.

ʼn Hospitaal in Antakya is intussen ontruim, asook een in die stad Iskenderun. Pasiënte wat in die hospitale se intensiewesorgeenhede was, is per ambulans na veldhospitale geneem.

Owerhede het mense intussen ook aangemoedig om van die kus af weg te bly, hoewel die Turkse visepresident, Fuat Oktay, gesê het daar is nie meer die risiko van ʼn tsoenami ​​nie.

Meer as 6 200 naskokke is sedert die aanvanklike aardbewing twee weke gelede gevoel en kenners is bevrees dat weens die sterkte van die eerste aardbewing, naskokke nog ʼn jaar lank gevoel sal word.

Duisende huise belowe

Terwyl sowat 118 000 geboue in Turkye weens die aardbewings ineengestort het, beplan owerhede om altesaam 200 000 nuwe geboue in die suidooste van die land te bou.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het onderneem om teen Maart met die konstruksie van die nuwe geboue te begin.

“Nie een van hierdie geboue sal hoër as drie of vier verdiepings wees nie,” het hy gesê.

“Ons sal begin om burgers wat in tente en ander alternatiewe woonplekke leef, binne ʼn jaar na hul nuwe huise te skuif.”

Dié regering verskaf reeds skuiling aan sowat 1,6 miljoen mense.

“Ons sal ʼn nuwe Antakya, Iskenderun en Arsuz bou,” het die president, met verwysing na die dorpe en stede in Hatay wat deur die aardbewing platgetrek is, gesê.

Die stad Antakya lê in puin ná die aardbewing, met eeue oue moskees en kerke wat vernietig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Samuel ·

Ek voel baie jammer vir die Turke. Baie bly dit is ons gespaar.

Amelia ·

Suid Afrika is nie n natuurramp nie maar spul krimineele Mens kan nie teen natuur baklei nie maar wel teen moordenaars verkragters diewe net jammer nie genoeg straf vir hul nie

Watsenaam ·

Katinka, in watter droom wêreld lewe jy?
Word wakker. Ons in Suid Afrika is op die rand van totale ineenstorting en jy vra nog so n vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.