Nóg ’n Amerikaanse Osprey stort neer

’n Osprey-tuig, soortgelyk aan die een wat Woensdag neergestort het. (Foto: Jonathan Nackstrand / AFP)

Nog ʼn Amerikaanse Osprey het Woensdag met agt bemanningslede aan boord aan die kus van Japan neergestort.

ʼn Woordvoerder van die Amerikaanse weermag sê die tyding is om 14:47 plaaslike tyd ontvang.

Voorlopige inligting dui daarop dat die militêre vliegtuig by Yakushima-eiland, suid van Japan se mees suidelike hoofeiland Kyushu, neergestort het.

“Ons is ook in kennis gestel dat daar agt bemanningslede aan boord was. Daar is geen verdere inligting op die oomblik beskikbaar nie.”

Die ongeluk volg enkele maande ná ʼn voorval waartydens ʼn Osprey – ʼn kombinasie van ʼn helikopter en ʼn vliegtuig – in Augustus op ʼn afgeleë eiland noord van Australië neergestort het.

Altesaam 23 mense is in die voorval dood. Dié ongeluk het tydens krygsoefeninge op die afgeleë en yl bewoonde Melville-eiland sowat 60 km noord van die Australiese vasteland plaasgevind.

Maroela Media het toe berig dié militêre vliegtuie het ʼn troebel geskiedenis en daar was die afgelope paar jaar verskeie dodelike ongelukke waarin dié vliegtuie betrokke was.

Vier Amerikaanse mariniers is verlede jaar in Noorweë dood toe hul V-22B-Osprey tydens ʼn Navo-oefening neergestort het.

In 2017 is drie mariniers dood toe ʼn Osprey neergestort het nadat dit die agterkant van ʼn vragskip getref het terwyl dit ter see naby Australië se noordkus probeer land het.

En in 2000 is 19 mariniers dood toe hul Osprey tydens oefeninge in Arizona neergestort het.

Die hibriedetuig het twee draaiskyfenjins op vaste vlerke wat dit toelaat om vertikaal te land en op te styg. Dit vlieg ook veel vinniger as ʼn konvensionele helikopter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.