Nog ʼn eerste vir koninklike troues

Lord Ivar Mountbatten (regs) is die eerste Britse koninklike wat uit die kas geklim én getrou het, met James Coyle. Foto: Instagram

ʼn Neef van koningin Elizabeth II het geskiedenis gemaak toe hy die eerste koninklike geword het wat met iemand van dieselfde geslag trou.

Lord Ivar Mountbatten (55) het verlede naweek voor 60 gaste tydens ʼn klein plegtigheid in Devon ewige trou aan James Coyle beloof, berig die Britse uitgawe van Cosmopolitan.

“Eindelik het ons dit gedoen!” het Mountbatten by ʼn foto van hom en sy eggenoot op Instagram geskryf. “Dis ʼn ongelooflike dag ondanks die mislike Britse weer.”

In die inskrywing bedank hy die huweliksbevestiger dat sy “die perfekte toon” gehandhaaf en die plegtigheid “lig en prettig help” maak het, die gospelkoor vir hul sang en die fotograaf vir die “wonderlike foto’s”.

“Maar die belangrikste van alles,” skryf hy “is ʼn reuse-dankie aan my drie pragtige dogters dat hulle soveel begrip en ondersteuning het, waarsonder dit nooit sou kon gebeur nie!”

Mountbatten, ʼn direkte nasaat van die Russiese keiserin Katharina die Grote en van koningin Victoria, en sy eksvrou, Penny (née Thompson), verkeer op so ʼn vriendelike voet sedert hul egskeiding in 2011 dat sy hom by die seremonie aan sy verloofde afgegee het.

“Rosie is uitgeput nadat sy aan die huwelikseremonie deelgeneem het, om nie te praat van al die krummels van die partytjietafels wat sy verorber het nie,” skryf lord Ivar Mountbatten by dié foto op Instagram. Foto: ivar_mountbatten via Instagram

“My dogters het besluit dit sou net reg wees dat hul ma saam met my in die paadjie afstap,” het Mountbatten vooraf op Instagram geskryf.

Mountbatten, wat eers twee jaar gelede openlik oor sy oriëntering begin praat het, is 24 jaar gelede tydens ʼn deftige bruilof vir die eerste keer getroud, berig die Daily Mail. Wyle prinses Margaret was een van die gaste. Hy en sy eksvrou is die ouers van drie dogters, Ella, Alexandra en Louise, tussen 15 en 22 jaar oud.

Dié keer was daar geen koninklike getuies toe hy in ʼn private kapel trou nie, maar die paartjie is hartlik gelukgewens deur sy uitgebreide familie, onder wie prins Edward, van wie sy oudste kind, lady Louise, Mountbatten die peetpa is.

Edward en die hertogin van Wessex kon nie die geleentheid bywoon nie weens ander verpligtinge.

Vroeër vanjaar het prins Harry en Meghan Markle ook geskiedenis gemaak deur die eerste veelrassige Britse koninklike huwelikspaar te word.

Mountbatten, ʼn geoloog en hoenderboer, en Coyle, ʼn direkteur van lugdienskajuitdienste, het mekaar in ʼn ski-oord in Verbier, Switserland, ontmoet, berig die Britse poniekoerant The Sun. Hulle beplan om volgende jaar wittebrood in Griekeland of Kroasië te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.