Nóg ʼn kind in hospitaal oor Tiktok-uitdaging

Britse dokters moes ’n 13-jarige meisie se blindederm en ’n gedeelte van haar ingewande verwyder nadat sy ʼn nuwe toertjie op die sosialemediaplatform TikTok probeer het.

Die jongste uitdaging op dié video-app behels dat magnetiese metaalballetjies aan weerskante van die tong geplaas word wat dan die indruk skep dat iemand ʼn tongring het.

Dinge het egter skeefgeloop vir die tiener van Merseyside in Engeland toe sy per abuis die magnetiese balletjies ingesluk en daarna begin siek voel het, berig Independent.

Luidens ’n berig deur The Mirror het die tiener vomeer en gekla van maagpyn.

Die meisie se ma, Faye Elizabeth, het haar dogter na ’n hospitaal geneem waar ’n skandering die magnetiese balletjies in haar buik gewys het. Altesaam 15 balletjies is uiteindelik gedurende ’n operasie uit haar ingewande verwyder.

Volgens Elizabeth het haar kind, wat nie haar naam genoem wil hê nie, blykbaar ʼn video van die uitdaging op TikTok gekyk wat baie kinders op die oomblik volg.

“Ek het dit nog nie gesien nie, maar sy het my daarvan vertel en baie ander kinders van haar ouderdom het dit gesien. Dit is magnete, maar omdat hulle so klein is, is dit maklik om dit in te sluk.”

Die voorval volg enkele dae ná ʼn soortgelyke voorval waarin ʼn 11-jarige seun ook magnete ingesluk het toe hy die uitdaging probeer het. Ellis Tripp het vyf magnetiese balletjies ingesluk wat later in sy ingewande gevind is nadat hy Vrydag in die kinderhospitaal in Birmingham geopereer is.

Sy ma, Amy Clarke, het intussen ʼn pleidooi op Facebook gerig om ander ouers oor die uitdaging te waarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Peetjie

Die ouers moet net eis dat die simpel TikTok video verwyder word….

Elize

Kinders moet meer takies kry om in en om die huis te doen. Dit leer verantwoordelikheid. Hulle is verveeld en wy te veel aandag aan sosiale media.

isabelle

hoekom het die kinders tiktok huh>

Su

TikTok is nie vir kinders nie mense!! Dit is SO gevaarlik in soveel opsigte!

Mauritz

Toe ek 13 jaar oud was (baie jare gelede) het ons al verstand gehad. Op watter ouderdom kry kinders deesdae verstand?