Nog ʼn koronavirus-sterfte buite China

Mense dra maskers terwyl hulle inkopies doen in Hongkong. Foto: (AP Photo/Vincent Yu)

China het Dinsdag bekend gemaak dat meer as 20 000 gevalle van die dodelike nuwe 2019-koronavirus (2019-nCoV) reeds aangemeld is.

China se pres. Xi Jinping het gesê die land is in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om die verspreiding van die virus te keer.

Die tweede sterfte buite China is intussen in Hongkong aangemeld. Die man wat dood is, het van Wuhan, waar die virus uitgebreek het, na Hongkong gereis.

Dié semi-outonome gebied het omstreeks middernag amper al sy grense met China gesluit nadat gesondheidswerkers begin betoog en daarop aangedring het.

Die dodetal in China het intussen tot 425 gestyg met 20 430 bevestigde gevalle. Minstens 180 gevalle is reeds in ander lande aangemeld. Die eerste sterfte buite China was die naweek in die Filippyne.

Mediese spanne van die Chinese weermag kom intussen in Wuhan aan om gesondheidswerkers af te los en om personeel te verskaf vir die nuwe hospitaal met 1 000 beddens wat binne tien dae daar gebou is. Nog ʼn hospitaal met 1 500 beddens sal binne die volgende paar dae sy deure oopmaak.

‘n Kontrolepunt in Hangzhou, China.(Chinatopix via AP)

Chinese wetenskaplikes het intussen meer bewyse bekom dat die virus moontlik by vlermuise ontstaan het.

In Suid-Afrika het die departement van gesondheid Maandag weer eens bevestig dat daar nog nie ʼn geval van die virus in die land is nie. Volgens die departement word reisigers steeds by grensposte en die groot lughawens ondersoek.

“Ons het bykomende personeel ontplooi en die hulp van mediese personeel van die weermag gevra vir die toets van reisigers waar ekstra kapasiteit benodig word.”

Intussen word reise tussen Suid-Afrika en China steeds nie beperk nie. Die departement het Suid-Afrikaners egter aangeraai om nie nou na China te reis indien dit nie noodsaaklik is nie.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het die virus verlede week tot ʼn internasionale noodtoestand verklaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Smurf ·

Dit is wat gebeur as jy allerhande goed eet wat jy nie moet nie……….

Suzette ·

Ek kan nie verstaan hoekom reise tussen Suid-Afrika en China nog nie opgeskort is nie!!! Hierdie is ‘n krisis.

Nell ·

Die woord ‘krisis’ kom nie in die ANC-woordeboek voor nie.

Anilda ·

as hy lank stil le eet hulle hom as hy te lank stil sit eet hulle hom…….en ons los ons poorte oop kom maar na ons toe….die hel weet ons gesondheid stelsel sal nie die ramp oor leef nie ….maar nee ons gesondheids prisdent dink mos hulle is slim….julle gaan spyt wees binne kort….daai staat hospitale is darem nie ingerug vir so iets nie…..

Naomi ·

Ek stem saam met die ondergenoemde kommentaar. Ons staatshospitale is glad nie toegerus of gereed vir enige siekte nie

Oe la la ·

Naomi as die ding hier heen moet kom sal dit een groot gemors wees….

Miskruier ·

Gelukkig eet ons nie vlermuise nie! Dankie aan ons boere vir veilige voedsel!!????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.