Nóg ʼn noodlanding vir British Airways

British Airways-vliegtuig (Argieffoto: anglotopia.net)

ʼn Vliegtuig van British Airways onderweg na Nigerië moes weens tegniese probleme ʼn noodlanding maak.

Dit is die jongste van ʼn reeks voorvalle waar dié lugredery moes bontstaan om tegniese probleme uit te stryk.

Die BA-83-vlug van Londen na Abuja, die Nigeriese hoofstad, moes Dinsdag inderhaas omdraai nadat dit tegniese probleme ondervind het skaars ʼn uur ná die vliegtuig opgestyg het, berig die nuusagentskap MyLondon.

Volgens dié nuuswebtuiste het die vlieëniers tegniese probleme opgemerk terwyl hulle oor die Engelse kanaal, sowat 120 km van Heathrow-lughawe, gevlieg het. Tegniese personeel het die vliegtuig ingewag toe dit net ná middernag weer op Heathrow geland het.

Die lugredery het aan MyLondon gesê die vliegtuig het slegs minimale tegniese probleme ondervind en dat dit standaard prosedure is vir tegniese personeel om vliegtuie by te staan in die geval van onbeplande landings.

“Ons personeel het gisteraand [Dinsdag] na passasiers omgesien en hulle oornagakkommodasie gebied. Ons vra om verskoning aan ons passasiers vir die vertraging in hul reisplanne,” het British Airways in ʼn verklaring gesê.

Dié probleem is die jongste in ʼn hele reeks tegniese probleme wat British Airways se vliegtuie die afgelope maande ondervind het. CNN berig dat ʼn aantal vlugte verlede week oornag gekanselleer is weens tegniese probleme. Dit is nie seker presies wat dié probleme behels nie. In Augustus moes die lugredery noodgedwonge meer as 100 vlugte kanselleer, omdat hul rekenaarstelsels inmekaar getuimel het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
PJN

Ek het nog altyd lekker met British Airways gevlieg. Ek voel baie veilig by hulle.

daniel

Hulle is bietjie vaag. Se nie, watter land se tegnici was veronderstel om die vliegthie te diens nie.