Nóg ʼn Olimpiese grootkop gepos oor Jode-grap

Kentaro Kobayashi. (Foto: Facebook)

Kentaro Kobayashi, kreatiewe direkteur van die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, is op die vooraand van die Spele afgedank oor ʼn dekade oue video waarin daar na die Jodeslagting verwys word.

Dit is die jongste vuishou vir die Spele wat verlede jaar weens die pandemie uitgestel is. Kobayashi se afdanking volg nadat verskeie sleutelamptenare van dié Spele, insluitend die voormalige hooforganiseerder, Yoshiro Mori, vroeër vanjaar oor seksistiese aanmerkings bedank het.

Kobayashi se aanmerkings oor die Jodeslagting in ʼn komedieskets-video uit 1998 het aanlyn aan die lig gekom en het Japannese geskok.

“Dit is onder ons aandag gebring dat hy taal gebruik het wat met dié tragiese gebeurtenis in die geskiedenis spot.

“Die organiseringskomitee het besluit om Kobayashi uit sy pos te verwyder,” het Seiko Hashimoto, hoof van Tokio 2020, aan verslaggewers gesê.

In die video maak Kobayashi en ʼn vriend asof hulle twee bekende aanbieders van kindertelevisie is en terwyl hulle papierkuns maak stel die een voor dat hulle “Let’s Play Holocaust” moet speel. Die voorstel het dan die vervaardiger ontstel en laat die gehoor skaterlag.

Yoshihide Suga, Japanse eerste minister, het die inhoud van die komedieskets “verregaande” en “heeltemal onaanvaarbaar” genoem.

Hy het egter bygevoeg dat die openingseremonie voort sal gaan soos beplan.

Kobayashi het in ʼn verklaring om verskoning gevra en gesê die komedieskets het “uiters onvanpaste” verwysings bevat.

Kobayashi, ʼn bekende figuur in Japanse teater, is die jongste lid van die openingseremonie om die span onder ʼn onweerswolk te verlaat.

Die kreatiewe regisseur vir die opening- en afsluitingseremonie, Hiroshi Sakaki, het in Maart ook gekies om te bedank nadat hy voorgestel het dat ʼn mollige vrouekomediant in die gedaante van ʼn vark haar opwagting moet maak by dié geleentheid.

Die eksperimentele musikant Keigo Oyamada, bekend as Cornelius, wat as komponis betrokke was by die openingseremonie, het Maandag bedank nadat ou onderhoude waarin hy beskryf hoe hy gestremde klasmaats geboelie het, ook aanlyn ʼn herrie ontketen het.

ʼn Vier minute lange musikale stuk wat hy gekomponeer het, is uit die seremonie verwyder, maar organiseerders het dit Donderdag onduidelik gelaat hoe Kobayashi se afdanking die geleentheid sal affekteer.

“Ons besluit nog hoe om môre die openingseremonie te laat voortgaan. Ons wil so gou as moontlik uitsluitsel kry.”

Besonderhede van die openingseremonie is geheim gehou, en die streng Covid-19-maatreëls beteken dat slegs sowat 950 mense die stoele van die Olimpiese-stadion – met plek vir soveel as 68 000 mense – sal vol sit.

Tokio 2020 loop deur onder ʼn reeks misstappe deur Olimpiese beamptes, insluitend die bedanking van Hashimoto se voorganger, Yoshiro Mori, wat bedank het nadat hy beweer het vroue praat te veel tydens vergaderings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hester Wilhelmina ·

Genadiglik is ek nie in ‘n posisie waar elke dingetjie uit my verlede oopgekrap en opgehaal en teen my kop gegooi kan word nie, want DAN het hulle my seker teen sononder op die dorpsplein gestenig.

Tiptol ·

Indien jy saam met familie of vriende of werkskollegas of iemand wat jy ken of iemand wat jy nie ken nie wil gesels of kuier, maak seker almal se fone is afgeskakel en in ‘n ander vertrek. Netnou sê jy iets wat jou na 10jr gaan inhaal.

Phumba ·

Dit is belaglik.
Mense sê en doen simpel dinge as hulle jonger is en dan raak hulle meer volwasse met tyd.
Die “Woke” generasie is te aan die slaap om te kan insien dat mense met tyd verander en ook dat die tye verander. Hulle probeer die verlede met vandag se filters (norme) bejeen.
Te eng om iemand n kans te gee om te wys dat hy/sy verander het. Tot hulle in dieselfde situasie beland, dan is die aanklaers die onvergeeflike, on-versoenende boelies.

Hipokrate!

Cherokee ·

Snert storie! Indien hulle ‘meer volwasse geraak het en verander het’ sou hulle bewyse daarvoor verskaf het as verdediging. Dit wys hoe hulle s’n koppe werk en as hulle kon, sou hulle die teendeel bewys het.

Phumba ·

En hoe sal jy die teendeel bewys? Al wat hy kan se is “Jammer ek het verkeerd gedoen, ek vra omverskoning.” en dan sal die “Woke” mense sê “talk is cheap, proof it” – wag hy het omverskoning gevra en dit het niks gehelp nie, ai ai ai.

Dis n “no win” situasie waarin die “woke” mense hulle verlustig. (Dit gee die woke mense ook n kans om te “virtue signal” – double win for left-wing liberals)

Zombie ·

Hoop die eiegeregtige mense wat hulle monde so oor ander uitspoel, leer ń deeglike les.

Bushy ·

Ek gaan oor 10 jaar van nou opmerkings maak. Wonder of as hulle weet of hulle dit nou al teen my gaan hou. Belaglik, die hele wereld se denkvermoe is ernstig aangetas. Tot ou Jan Van Riebeeck het nou 360 jaar later hier in Suid Afrika al deurgeloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.