Nóg ’n reusestorm op pad na Indië

’n Man beskerm homself teen die reën Allahabad. (Foto: SANJAY KANOJIA / AFP)

Dit blyk ʼn ongeluk kom nooit alleen vir Indië nie.

Weervoorspellers het Donderdag gewaarsku ʼn kragtige storm is binne die volgende week op hande in die Baai van Bengale aan die ooskus van Indië. Dít binne ʼn week nadat die grootste sikloon om die weste van dié land in dekades te tref, minstens 110 lewens geëis het.

Die Indiese meteorologiese departement sê in sy jongste waarskuwing dat ʼn sikloniese storm teen volgende Woensdag in die oostelike deelstate Wes-Bengale en Odisha verwag word.

Wetenskaplikes meen siklone in Indië, wat tans gebuk gaan onder ʼn verwoestende derde vlaag van Covid-19, kom al hoe meer gereeld en sterker voor namate klimaatsverandering tot warmer seetemperature lei.

Swaar reën en sterk winde het vóór Maandag se sikloon in Tauktae reeds die lewe van ongeveer 20 mense in die weste en suide van Indië geëis.

Die dodetal in die Indiese staat Gujarat het intussen tot 53 gestyg nadat stormsterk winde weens sikloon Tauktae gebreekte vensters, tienduisende ontwortelde bome en wydverspreide kragonderbrekings tot gevolg gehad het.

Die dodetal kan ook moontlik verder styg. Plaaslike koerante berig dat byna 80 mense in dié staat omgekom het nadat huise of mure op talle slagoffers ineengestort het.

Nog 37 mense is dood en 38 vermis nadat  ʼn ondersteuningskip wat olieboortorings bedien aan die kus van Mumbai onder enorme golwe deurgeloop en gesink het.

Ongeveer 200 000 mense kon wel voor sikloon Tauktae na veiligheid gebring word en daar is geen ernstige probleme by Covid-19-hospitale in geraakte gebiede aangemeld nie.

Sikloon Tauktae het intussen verswak namate dit noordoos beweeg het. Dit het swaar reën in Allahabad en Nieu-Delhi meegebring.

Nieu-Delhi het glo sy natste en koudste dag in 70 jaar gedurende Mei beleef.

Wetenskaplikes sê siklone in April en Mei, voor die reënseisoen (moeson), kom meer gereeld voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

My hart gaan uit na die mense van Indië. Hopelik is die baie reën net wat julle nodig het om die COVID weg te was?

Misky ·

Arme mense en wat gaan hulle nog tref? Kan net dink hoe negatief en moedeloos hulle teen die tyd moet wees

Samuel ·

Mens kan nie anders as om die Indiërs jammer te kry nie. Wat as so-iets ons ooit moet tref?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.