Nog ʼn sikloon tref Indië

Inwoners van Moembaai beveilig hul huise voor sikloon Nisarga. (Foto: AP Photo/Rajanish Kakade)

’n Sikloon beweeg tans in die rigting van die Indiese kusstad Moembaai. Dít volg enkele weke nadat die Indiese stad Kolkata gebuk gegaan het onder supersikloon Amphan.

CNN berig sikloon Nisarga het Dinsdagoggend in die Arabiese See ontstaan en het intussen die Indiese dorp Alibag, suid van Moembaai, getref.

Die sikloon dreig nou om die eerste ernstige sikloon te word om Moembaai sedert 1891 te tref. Dié stad het sowat 20 miljoen inwoners.

BBC berig reën sak sedert Dinsdag in Moembaai uit met tienduisende mense wat intussen na hoogliggende gebiede verskuif is. Dít sluit in sowat 150 Covid-19-pasiënte wat in ’n veldhospitaal in die stad behandel word.

Moembaai is tans die stad met die meeste gevalle van Covid-19 in Indië. Meer as 40 000 bevestigde gevalle van Covid-19 en byna 1 400 verwante sterftes is reeds in Moembaai aangemeld.

‘n Satellietbeeld van sikloon Nisarga. (Foto: NASA Worldview, Earth Observing System Data and Information System (EOSDIS) via AP)

Die Indiese meteorologiese departement het Woensdag vroegoggend gesê die sikloon is sowat 215 km van Moembaai. Die departement het egter later aangedui dat die sikloon al hoe vinniger beweeg – tans teen ’n spoed van tot 110 km per uur.

Die departement het nou sikloon Nisarga as ’n “ernstige sikloniese storm” bestempel.

Die plaaslike regering doen ʼn beroep op inwoners om hulle huise te beveilig, ’n noodkissie voor te berei en alle dokumente en waardevolle artikels in waterdigte houers te hou.

Altesaam 85 mense is dood toe supersikloon Amphan sowat twee weke gelede Indië en Bangladesj getref het.

Maroela Media het vroeër berig talle inwoners in Kolkata was weens dié sikloon dae lank sonder elektrisiteit gelaat. Verkeersligte, bome en lamppale is ook deur supersikloon Amphan omgewaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Miskruier ·

As ons infrastruktuur afgebreek word tot die standaard wat Indië het, sal natuurrampe dieselfde verliese by ons bewerkstellig.

Genis ·

Dis verskriklik om te dink veral in die tyd dat daar so n kragtige sikloon op hul stoep le.. Dit moet verskriklik wees, en angsbevange..

Sarel ·

Mense asseblief kyk en lees en trl.jou seeninge en hou op kla

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.