Nóg ʼn terreuraanval in Burkina Faso

Argieffoto

Ouagadougou, die hoofstad van die Wes-Afrika-land Burkina Faso, is Vrydagmiddag deur ʼn derde terreuraanval in die afgelope twee jaar getref.

BBC berig minstens 16 mense is in die aanval dood. Agt van dié oorledenes is glo veiligheidswagte wat die aanval probeer teenstaan het, en nog agt is glo deel van ʼn jihadistiese terreurgroep.

Die aanvallers het op die Franse ambassade in die hoofstad en die weermag se hoofkantoor losgebrand.

Clement Sawadogo, Burkina Faso se minister van veiligheid, sê een van die aanvalle was ʼn bomontploffing in ʼn motor wat glo bedoel was om ʼn gebou te vernietig waar anti-terroristegroepe vergader het. Sawadogo sê die vergadering is egter enkele ure vroeër na ʼn ander lokaal geskuif.

Jean-Yves le Drian, Frankryk se minister van buitelandse sake, het gesê die aanval hou sonder twyfel verband met terreur.

ʼn Ooggetuie in Ouagadougou het aan ʼn plaaslike televisiestasie gesê dit was vreesaanjaend om die geluid van aanvalsgewere in die hoofstad te hoor losbrand.

Die ambassade is glo geteiken weens sy nou bande met Burkina Faso in sy stryd teen terrorisme.

Al-Kaïda het verantwoordelikheid vir die vorige terreuraanval in Ouagadougou geneem. Altesaam 30 mense is in dié aanval dood toe die terreurgroep ʼn restaurant en hotel aangeval het.

Die land het in 2015 ʼn mislukte staatsgreep beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.