Nóg ʼn terreuraanval in Spanje

‘n Beseerde persoon word behandel in Barcelona, Spanje (17 Augustus 2017) Foto: AP Photo/Oriol Duran

Die Spaanse polisie het Vrydagoggend vroeg gesê vyf persone wat vermoedelik betrokke was in ʼn beweerde terreuraanval in Cambrils is dood, ure ná ʼn soortgelyke voorval in Barcelona.

“Ons werk met die aanname dat gebeure in Cambrils ʼn terreuraanval was. Ons het die beweerde oortreders doodgeskiet,” het die Katalaanse polisie op Twitter gesê.

Die nuus kom ure ná die polisie op soek was na die bestuurder van ʼn paneelwa wat in ʼn skare in gejaag het in Barcelona. Minstens 13 persone is dood en 100 beseer tydens dié voorval.

Sewe persone, insluitend een polisiebeampte, is beseer tydens die voorval in Cambrils, 120 km suid van Barcelona. Plaaslike media berig die aanvallers het ook probeer om met ʼn voertuig in voetgangers vas te ry toe polisiebeamptes op hulle losgebrand het.

Bomkenners probeer bepaal of die mans springstoftoestelle gedra het en die polisie het gewaarsku dat beheerste ontploffings gedoen word.

Die Katalaanse polisie het gesê hulle glo die twee aanvalle, tesame met ʼn ontploffing Woensdagaand in Alcanar, 200 km suid van Barcelona, waartydens een persoon dood is en ʼn huis ineengestort het, hou verband met mekaar.

Josep Luis Trapero, hoof van die polisie in Katalonië, het vroeër gesê daar is egter tot dusver geen gewyse dat nóg ʼn voorval, waar die polisie ʼn man ure ná die Barcelona-aanval doodgeskiet het toe hy ʼn nasienpunt wou ontvlug, met die ander voorvalle verband hou nie.

Kinders word vergesel in Barcelona, Spanje (17 Augustus 2017) Foto: AP Photo/Manu Fernandez

Die Islamitiese Staat-terreurgroep het deur sy geaffilieerde Amaq-nuusagentskap gesê sy “soldate” is verantwoordelik vir die aanval in Las Ramblas, ʼn gewilde toeristebestemming in Barcelona.

Trapero het gesê twee mans is in hegtenis geneem in verband met die voorval, ʼn Marokkaan en ʼn Spanjaard. Dit wil voorkom of nie een van die twee voorheen bande gehad het met terrorisme nie. ʼn Derde man, wat vermoedelik die bestuurder van die paneelwa was, is steeds op vrye voet, het hy aan verslaggewers gesê.

“Die aanval in Las Ramblas was duidelik ʼn terreuraanval wat ten doel gehad het om soveel as moontlik lewens te eis,” het hy bygevoeg.

Die Spaanse eerste minister Mariano Rajoy, wat sy vakansie kortgeknip het om na Barcelona te reis, het drie dae van rou aangekondig. “Ons is nie net verenig in ons hartseer nie. Ons is ook verenig in die besluit dat ons diegene wat ons waardes en ons manier van lewe wil beroof, sal oorwin,” het hy gesê.

Joaquim Forn, minister van binnelandse sake van Katalonië, het gesê hy verwag dat die dodetal in Barcelona sal styg.

Albert Zeitler, ʼn Duitser wat naby die Museum van Kontemporêre Kuns was tydens die aanval, het telefonies aan dpa gesê dit het soos ʼn “oorlogsone” gevoel. “Daar was polisiebeamptes met masjiengewere en wapens wat na my toe gehardloop het. Almal het in die winkels in gevlug,” het hy verduidelik. “Ek het nog nooit vantevore so iets beleef nie.”

Nóg ʼn getuie, Erminia Mata, het aan El Mundo-koerant gesê “daar was baie mense wat op die grond gelê en bloei het”.

Spaanse media het vroeër beeldmateriaal vrygestel waar liggame oor die straat gelê het.

Video’s op sosiale media wys hoe ʼn paneelwa, waarvan die sydeur oop is, vinnig deur ʼn voetgangersgebied ry. Die El Pais-koerant het gesê aldus die polisie is ʼn Spaanse paspoort in die voertuig gevind.

Europa word die afgelope twee jaar geteister deur ʼn aantal terreuraanvalle waar voertuie gebruik word insluitend in Nice, Berlyn en twee in Londen.

Spanje se ergste terreuraanval was in Maart 2004 toe 191 persone dood is ná ʼn bomaanval op pendelaarstreine in Madrid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pietman ·

Spanjaarde stem vir massa-emigrasie met geen kontroles. Dis maar die gevolge. Snaaks genoeg geen tereur aanvalle in Hongarye, Pole en die VSA onder Trump.

Frederik ·

Wel, dit is maar dieselfde situasie as in SA. Die terro’s is ingeneem sonder inagneming van die feit dat hul werkloses gaan wees. ‘n Ledige mens voel dikwels nutteloos en doen dan dinge om hom/haarself te bewys.

Hendrik ·

Kyk na op twitter https://twitter.com/V_of_Europe en jy sal stomverslae wees hoe Europese niks doen om die golf van immigrante te keer nie. Lesotho het naas Swede die hoogste verkragting syfer in die wereld. Suur aanvalle in London. Geen toegang areas om die Eifeltoring. Geen witmense na 8 uur die aand in sekere gedeeltes van Birnaham, Engeland.

Rupert Ashford ·

Baie, baie hartseer – innige meegevoel met die beseerdes en naasbestaandes van oorledenes. Lyk my dit help ook nie om “nice” te wees nie. Na die ontploffings op die Spaanse Metro paar jaar gelede het die Spanjaarde onttrek uit alle konfliksones, ook uit Irak. Neville Chamberlain – peace in our time?

HPV ·

Die Islamitiese staat se “soldate” het die lafhartige terreuraanval uitgevoer. Soldate is trotse opgeleide gedissiplineerde individuele wat slegs optree teen ander gewapende magte. Hulle vermoor nie ongewapende burgerlikes nie. Hulle bind ook nie ongewapendes burgerlikes vas en vermoor hulle dan op mees siek, lafhartige, veragtelike brutale maniere denkbaar nie. Sulke mense noem mens terroriste, dit is hul metode van doen. Sien ook kommentare op “Daily Mail Isis News” insake Isis en terroriste.

Hendrik ·

170 mense al doodgery deur vragmotor/paneelwaens in laaste jaar in Europa. ‘n Mens het nie net bomme nodig om ‘n land te terroriseer nie. Kyk na ons land met die plaasaanvalle waar elke jaar oor die 300 plaasmense vermoor word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.