Nog ʼn terugslag vir FB-moedermaatskappy

(Foto: Chris DELMAS/AFP)

Die aandele van Facebook se moedermaatskappy, Meta, het verlede week met meer as $200 miljard gedaal ná resultate wat twyfel oor die sosialemedia- en tegnologiereus se toekoms laat ontstaan ​​het.

Alle oë in Wall Street was Woensdag reeds op Meta gerig, wat ná die sluiting van verhandelings op die aandelemark ʼn skerper as verwagte daling in wins getoon het.

Die maatskappy se aandele het in die verlede gestyg ondanks boetes wat opgelê is, dreigemente oor regulasies, beskuldigings van die verspreiding van waninligting, en teisteringskwessies. Meta was die afgelope week egter nie so gelukkig om ʼn tuimeling in aandele vry te spring nie.

Benewens die groot beleggingskoste van sy metaheelal-planne vir die internet en bedreigings vir die maatskappy se kernadvertensiebesigheid, het Meta ʼn stadiger groeikoers voorspel en selfs sy eerste daling in daaglikse Facebook-gebruikers wêreldwyd gerapporteer.

Facebook, een van die sosialemediareus se vlagskipprodukte, het in die laaste twee kwartale van 2021 ongeveer een miljoen daaglikse gebruikers wêreldwyd verloor. Hoewel dit relatief min is in vergelyking met die platform se byna twee miljard daaglikse gebruikers, kan dit moontlik ʼn teken van stagnering wees.

Dave Weiner, Facebook se finansiële hoof, het aan ontleders gesê dat gebruikersgroei deur verskeie faktore beïnvloed is, insluitend oneweredige groei in die Asië-Stille Oseaangebied tydens die Covid-19-pandemie en ʼn styging in datakoste in Indië.

“Mededingende platforms soos TikTok wat veral by jonger gehore aanklank vind, plaas verder ʼn demper op die groeikoers van Facebook se gebruikersgetalle,” het Weiner bygevoeg.

Dit is die eerste resultate wat sedert die maatskappy se naamsverandering aan die einde van Oktober uitgereik is. Maroela Media het in 2021 berig dat die naamsverandering glo gepaardgaan met die maatskappy se fokus op ʼn sogenaamde metaheelal (metaverse).

AFP het onlangs berig dat dit na bewering ook ʼn strategie is om weg te beweeg van die “skandaal geneigde mediaryk”. Die Silicon Valley-reus se fluitjieblaserkrisis verlede jaar het beskuldigings beklemtoon dat bestuurders groei bó die veiligheid van hul miljarde gebruikers stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lillian ·

Dit sal nou nie skade wees as hulle aandele heeltemal crash en dit tot niet gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.