Nog ʼn tragedie tref Kennedy-familie

Maeve en Gideon Kennedy McKean. Foto: Facebook

Die soektog na twee lede van die Kennedy-familie is eers gestaak nadat geen tekens van die ma en seun gevind kon word nie, het die Amerikaanse kuswag aangekondig.

Maeve Kennedy McKean (40), kleindogter van die Amerikaanse senator Robert F. Kennedy en kleinniggie van oudpres. John F. Kennedy, en haar agtjarige seun Gideon het vermoedelik verdrink in die Chesapeake Bay-monding in die Amerikaanse state van Maryland en Virginia.

Die kuswag het Donderdagaand inligting ontvang dat twee persone gesien is waar hulle in ʼn kano sukkel om na die oewer terug te keer naby Herring Bay.

David McKean, Maeve se man, het aan The Washington Post gesê sy vrou en seun het omstreeks 16:00 Donderdag die kano in die monding uitgeroei om ʼn bal te gaan kry wat in die water beland het, waarna hulle nie daarin kon slaag om terug te roei nie.

Die kuswag het in ʼn verklaring gesê dat daar langer as 26 uur ʼn uitgebreide soektog in die lug, water en op die grond was, maar dat geen teken van die ma en die seun gevind is nie.

Kathleen Kennedy Townsend, Maeve se ma, het in ʼn verklaring gesê haar dogter het haar lewe daaraan toegewy om die kwesbaarstes in die samelewing te help.

“Dit is met ʼn diep hartseer dat ek die nuus oordra dat die soektog na my geliefde dogter Maeve en kleinseun Gideon van ʼn reddingspoging na ʼn herwinning verander het,” het Townsend, voormalige goewerneur van Maryland, gesê.

Die Kennedy-familie is in 2019 ook deur tragedie getref toe Saoirse Kennedy Hill (22), ook ʼn kleindogter van Robert F. Kennedy, ʼn oordosis medikasie geneem het.

Die Kennedy-familie het oor die dekades talle tragedies beleef. John F. Kennedy, Amerikaanse president, is op 22 November 1963 in Dallas, Texas, in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet. Sy broer, Robert F. Kennedy, is op 6 Junie 1968 ook in ʼn sluipmoordaanval in Los Angeles doodgeskiet.

John F. Kennedy jr., sy vrou Carolyn, en skoonsuster Lauren Bessette is in 1999 dood toe die ligte vliegtuig waarin hulle was in die see geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

LD ·

Sjoe, dis omtrent ñ tragedie op tragedie vir die familie! Sterkte vir die familie wat agter gelaat is.

Onnie ·

Dit klink darem vreemd dat haar man gesien het hoe hulle probeer roei maar nie gehelp het nie. Of die beriggewing is swak of hier is iets nie lekker aan die storie nie. Het sy nie dalk eerder van iets probeer wegroei nie?? Dis tog uiters tragies, n seuntjie van 8 jaar oud moes baie bang gewees het

madels ·

Ek het jare terug gehoor dat daar n vloek op die Kennedy familie is. So as dit waar is, is hierdie gebeure nie n verrassing nie. Hulle moet hierdie vloek breek.

Faraway ·

Inderdaad is daar iets soos n ” generation curse ” en daardie vloek kan deur gebed verbreek word
Gaan luister gerus na Derek Prince se leringe op you tube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.