Nóg ʼn voorval van polisiebrutaliteit ruk VSA

Betogers in Memphis. (Foto: John Lamparski/NurPhoto) 

Die polisie in die Amerikaanse stad Memphis het Saterdag een van sy spesiale eenhede ontbind nadat beamptes van dié eenheid ’n jong swart man vroeër vandeesmaand só erg aangerand het dat hy drie dae later in die hospitaal aan sy beserings beswyk het.

Grafiese beeldmateriaal van die aanranding het Vrydag die lig gesien en betogings soortgelyk aan dié ná die moord op George Floyd oor die naweek in Memphis, Washington, New York, Philadelphia en Atlanta tot gevolg gehad.

Hierdie keer is dit egter nie wit polisiemanne wat van wreedheid beskuldig word nie.

Beeldmateriaal wys hoe vyf beamptes, almal swart, vir Tyre Nichols (29) op 7 Januarie enkele meter van sy huis voorkeer en aanhou voordat polisiebeamptes hom met ’n Taser-skokstok probeer bydam.

Daar kan in die beeldmateriaal gesien en gehoor word hoe Nichols volhou dat hy niks verkeerds gedoen het nie voordat hy die polisiebeamptes in ’n stadium probeer ontwyk. Hy word dan eindelik herhaaldelik geskop en geslaan terwyl hy kreun en na sy ma roep.

Betogers in Memphis. (Foto: Seth Herald / AFP)

“Hulle het hom pap geslaan,” het Nichols se ma, RowVaughn Wells, Vrydag aan CNN gesê. “Hy het oral kneusplekke gehad. Sy kop was so groot soos ʼn waatlemoen opgeswel en sy nek was ook erg opgeswel.”

Tadarrius Bean, Demetrius Haley, Desmond Mills Jr., Emmitt Martin III en Justin Smith is sedertdien uit die polisie ontslaan en van moord aangekla.

Die polisie in Memphis het intussen gesê dit is “in die belang van almal” om sy spesiale eenheid bekend as Scorpion te ontbind. Die eenheid staan vir Street Crimes Operation to Restore Peace in Our Neighborhood en is in 2021 van stapel gestuur.

Die eenheid van 50 lede was daarmee getaak om hoë misdaadvlakke in bepaalde gebiede hok te slaan.

“Terwyl die gruwelike optrede van ’n paar beamptes ’n wolk van oneer op die titel Scorpion werp, is dit noodsaaklik dat ons, die Memphis-polisiedepartement, proaktiewe stappe doen in die genesingsproses vir almal wat geraak word,” lui ’n verklaring deur die polisie.

Nichols se familie het die ontbinding van die eenheid ’n gepaste reaksie op hul familielid se dood genoem.

“Ons moet in gedagte hou dat dit net die volgende stap op hierdie reis na geregtigheid en aanspreeklikheid is, aangesien hierdie wangedrag duidelik nie tot spesiale eenhede beperk is nie.

“Dit strek soveel verder,” het Nichols se familie by monde van hul prokureurs Saterdag gesê.

Tientalle betogers het Saterdagmiddag vir polisiehervorming in verskeie stede betoog. Slagspreuke soos “Geen geregtigheid, geen vrede!” en “Geregtigheid vir Tyre Nichols” is luidkeels geskree.

Die beeldmateriaal van Nichols se aanranding herinner aan beeldmateriaal van die aanranding destyds op Rodney King. King is in 1991 erg deur die polisie in Los Angeles aangerand nadat hy deur polisiebeamptes voorgekeer is.

Die beeldmateriaal het destyds ’n herrie oor polisiebrutaliteit ontketen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veronika ·

Ja nê! Maar SA is rassisties! Die grootste rassisme in die wereld is in die USA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.