Nog ʼn Zim-minister glo in hegtenis geneem

ʼn Militêre voertuig in ʼn straat in Harare. (Foto: AP)

Paul Chimedza, Zimbabwe se minister vir provinsiale sake in Masvingo, is na bewering Donderdag in die Bubi-distrik in Matabeleland-Noord in hegtenis geneem.

Die onafhanklike Zimbabwiese dagblad NewsDay het berig Chimedza is glo by ʼn weermagpadblokkade in hegtenis geneem. Volgens die berig is Chimedza nou een van vier Zanu-PF-beamptes, insluitend Jonathan Moyo, Ignatius Chombo en Kudzanai Chipanga, wat deur die weermag aangehou word.

Genl. Constantino Chiwenga, bevelvoerder van die Zimbabwiese weermag, het Maandag gewaarsku dat die weermag “drastiese stappe” sal doen as faksies in die regerende Zanu-PF nie ophou om van partylede met ʼn militêre agtergrond ontslae te raak nie. Dit kom nadat adjunkpres. Emmerson Mnangagwa, wat ook ʼn oorlogveteraan is, verlede week afgedank is.

Mnangagwa was in ʼn magstryd met pres. Robert Mugabe se vrou, Grace, gewikkel. Sy word deur die jeugdige G40-faksie ondersteun. Mnangagwa het ná sy afdanking na Suid-Afrika gevlug, maar het volgens berigte intussen na Zimbabwe teruggekeer om beheer van die regering te neem.

Genl.maj. Sibusiso Moyo, weermagwoordvoerder, het Woensdag in die vroeë oggendure tydens ʼn regstreekse uitsending op ZBC-televisie en -radiostasies gesê die weermag se doel is om “misdadigers rondom die president” te teiken, maar ontken dat hulle ʼn staatsgreep uitgevoer het. Sy verklaring het gekom nadat die weermag beheer van die staatstelevisie geneem het.

Mugabe het Chimedza op 10 Oktober as minister ingesweer ná ʼn kabinetskommeling op 9 Oktober. Chimedza, wat in 2014 as adjunkminister van gesondheid en kindersorg afgedank is, het by Shuvai Mahofa oorgeneem wat in Augustus dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frikkie Geld en huis ·

Die land het geen ekonomie of selfs ‘n standaard geldeenheid nie, maar wel ‘n ministrie vir kindersorg???!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.