Nóg regs- en veiligheidsdrama vir Meghan en Harry

Harry en Meghan. (Foto: Instagram)

Die hertog en hertogin van Sussex het vandeesweek wéér die wêreld se voorblaaie gehaal vir die deurlopende drama oor hul families en veiligheid.

Dit volg nadat Meghan Markle se vervreemde pa, Thomas Markle, vroeër dié week aangekondig het dat hy gereed is om teen sy dogter te getuig in ʼn saak wat haar halfsuster, Samantha Markle, teen haar aanhangig gemaak het.

Samantha (57) beweer dat die hertogin lasterlike aantygings tydens haar en haar man se opspraakwekkende Oprah-onderhoud gemaak het deur te impliseer dat sy en Samantha byna “vreemdelinge” is en dat sy as “enigste kind” grootgeword het.

Sy sê dat Meghan ook “vals en kwaadwillige” stellings versprei het in die boek Finding Freedom: Harry and Meghan and the making of a modern Royal Family, waarin beweer word dat Meghan arm grootgeword het.

Samantha, wat sedert die begin van Meghan en Harry se verhouding graag negatiewe uitlatings oor die egpaar in die media maak, eis dat haar jonger suster haar skadevergoeding van $75 000 (sowat R1,12 miljoen) sowel as haar regskoste betaal.

Thomas Markle het in die debuut-episode van sy eie YouTube-kanaal saam met sy vriend en fotograaf Karl Larsen gesê dat hy sy oudste dogter in haar saak teen Meghan ten volle ondersteun.

Hy sien klaarblyklik ook daarna uit om sy dogter en haar “rooikop man” van aangesig tot aangesig in die hof te sien.

Die voormalige beligtingsregisseur en sy aktrise-dogter se reeds gespanne verhouding het sedert 2018 vererger ná dit aan die lig gekom het dat hy kort voor die hertog en hertogin van Sussex se spogtroue ingestem het om vir paparazzi-foto’s te poseer wat dit laat voorkom het asof hy voorbereidings vir sy dogter se troue tref.

Samantha se Twitter-rekening is ook Maandag opgeskort nadat sy probeer het om ’n vorige verbod wat dié sosialemediaplatform in 2019 teen haar vir laster uitgereik het, te ontduik.

Terug in Brittanje blyk dit dat die koninklike gesin nie voltallig gaan wees vir prins Philip, koningin Elizabeth se oorlede man, se gedenkdiens nie.

Prins Harry word daarvan beskuldig dat hy sy ouma afjak nadat hy aangekondig het dat hy sy oupa, wat verlede jaar kort voor sy 100ste verjaarsdag oorlede is, se gedenkdiens sal misloop te midde van ’n regsdispuut oor sy veiligheid in Brittanje.

Terwyl ’n woordvoerder vir prins Harry bevestig het dat hy die diens vir sy oupa in Westminster-abdy op 29 Maart gaan misloop, gaan hy glo die Invictus-spele bywoon wat net twee weke later in Nederland aangebied sal word.

Gegewe die beperkte aard van prins Philip,hertog van Edinburgh, se begrafnis in 2021, wat weens Covid-beperkings net deur 30 mense bygewoon kon word, is hierdie maand se gedenkdiens bedoel om ’n geleentheid te bied vir ’n nasionale viering van die hertog van Edinburgh se lang lewe en diens.

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Waarom is Harry se Amerikaanse private sekerheid dan nie voldoende?

Maroela Media het vroeër berig dat prins Harry en sy gesin, wat tans in Kalifornië in die VSA woon nadat hulle in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het, die reg tot polisiebeskerming (waarvoor Britse belastingbetalers betaal) verloor het.

Prins Harry het hom verlede maand tot die Britse howe gewend nadat die regering geweier het dat hy uit sy eie sak vir dié beskerming betaal en aangevoer het die besluit beteken hy kan nie terugkeer na sy tuisland nie.

Sy regsverteenwoordiger het verlede maand gesê dat die hertog se private sekerheidspan in die VSA nie die voldoende jurisdiksie of toegang tot Brittanje se intelligensie het om sy familie te beveilig nie. Hy is na bewering ook verlede jaar tydens ʼn besoek aan die VK in gevaar gestel weens die afwesigheid van polisiebeskerming terwyl hy ’n liefdadigheidsgeleentheid verlaat het.

Alhoewel dit vreemd klink dat private sekerheidsdienste nie genoegsame beskerming vir die egpaar en hul twee kinders sal bied nie, het Buzzfeed News onlangs berig dat Brittanje se streng vuurwapenwetgewing, wat verhoed dat private sekerheidsmaatskappye vuurwapens dra, moontlik Harry se besluit beïnvloed.

Koninklike kommentators bevraagteken egter waarom Harry onveilig sou voel om Brittanje te besoek, maar nie in Nederland tydens die weeklange Invictus-spele, ’n sportbyeenkoms wat hy vir gestremde militêre veterane tot stand gebring het, nie.

Die antwoord het dalk te doen met die Invictus-dokumentêr wat hy in ʼn multimiljoen-dollar-ooreenkoms vir Netflix moet verfilm.

Indien die prins nie die beskerming kry waarvoor hy vra nie, gaan die Sussexe moontlik ook die koningin, wat aan al hoe meer amptelike pligte onttrek sedert sy vroeër vanjaar positief vir Covid-19 getoets het nie, se groot Platinum Jubilee-vieringe misloop.

Bronne: AFP/Buzzfeed News/Mail Online

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sandra ·

Vir twe mense wat nou juis die paleis verlaat het om in vrede en stilte te lewe, maak hulle ‘n groot bohaai oor alles en nog wat. Hulle bring eintlik die hele familie se naam, nie dat dit nie al klaar is nie, in gedrang deur hulle uitlatings en stories oor hul slegte behandeling in die paleis. Ek twyfel vir geen oomblik, siende dat hulle nie deur die paleis geldelik ondersteun word nie, dat hulle vir al die drama in die koerante en tydskrifte betaal word.

Jacques ·

Die twee is soos daardie oom van jou wat skelm drink en stripshows kyk. Bring net verleentheid oor die res van die gesin. Almal is nog lief vir hom maar hy moet liefs die kersfunksies vermy

Samuel ·

Twee regte aandagsoekers. Ek dink ook Meghan is ‘n regte opstoker.

Mariana ·

Ai die twee se drama gaan nooit end kry nie. Hulle wil hul brood aan albei kante gebotter hê en die korsies ook. Megan is ‘n leuenaar, dit is mos nou oor en oor bewys, maar dit lyk nou ook of die suster en pa geld soek. Harry wil steeds nie koninklike wees nie, maar wil tog ook al die “perks” hê. Eintlik is hulle net aandagvrate. As die media so bietjie stilraak om hulle, sal hulle iets doen of sê om weer in die nuus te wees.

Chantel ·

So moeg vir hulle twee. En is hulle nie maar eintlik net Harry en Megan nie, het mos hulle koningklike pligte en ampstitels opgegee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.