Nog seksuele aanklagte teen Hollywood-akteur

Kevin Spacey. Foto: Evan Agostini/Invision/AP, File

Die Amerikaanse akteur Kevin Spacey is weer in die sop nadat nog drie aanklagte van seksuele teistering teen hom aanhangig gemaak is in die Verenigde Koninkryk (VK).

Scotland Yard ondersoek nou ses klagte teen dié Oscar-bekroonde akteur rakende bewerings dat hy mans in die VK seksueel aangerand het, berig The Guardian.

Hoewel Spacey nie as die verdagte geïdentifiseer is nie, het Scotland Yard Woensdag bevestig dat polisiebeamptes ʼn man ondersoek nadat nog klaers, een in Gloucester en twee in Londen, na vore gekom het.

Die jongste aantygings spruit uit beweerde voorvalle in 1996 in Westminster, in 2008 in Lambeth en in 2013 in Gloucester.

Drie ander klagte van seksuele teistering teen hom is reeds in Londen aanhangig gemaak, asook een in Los Angeles in die VSA.

Spacey, die kreatiewe direkteur van die Londense Old Vic-teater tussen 2004 en 2015, is een van die eerste Hollywood-sterre wat aanklagte van seksuele teistering moet trotseer in die nadraai van die Harvey Weinstein-skandaal.

Die akteur se ondergang het begin toe die akteur Anthony Rapp, wat veral bekend is vir sy rol in die rolprentweergawe van die musiekblyspel Rent, in November verlede jaar tydens ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê het hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey (58) gereël is.

Volgens Rapp het Spacey bo-op hom gelê op ʼn bed nadat die ander gaste reeds weg was. Rapp het gesê hy het Spacey weggestoot en toe die huis verlaat. Rapp was slegs 14 jaar oud tydens die beweerde voorval en Spacey was 26.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy kan nie die voorval onthou nie. Hy het egter onvoorwaardelik verskoning aangebied en gesê hy was seker onder die invloed van alkohol. Spacey het ook intussen erken hy is gay.

Spacey is intussen deur Netflix se House of Cards afgedank, asook uit Ridley Scott se fliek, All the money in the world, geskop en vervang deur die akteur Christopher Plummer. Die koste van die herskiet van Spacey se tonele het miljoene beloop.

Altesaam 20 personeellede van die Old Vic-teater het intussen na vore gekom met inligting dat hulle ook onder Spacey se onvanpaste gedrag deurgeloop het.

Die Australiese akteur Guy Pearce het Dinsdag in ʼn onderhoud op ʼn Australiese kletsprogram teenoor die aanbieder, Andrew Denton, bely dat hy betas is deur Spacey op die stel van die fliek L.A. Confidential in 1997. “Gelukkig was ek toe 29, en nie 14 nie,” het die akteur gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Katerina ·

Dat hy gay is,pla my glad nie,hy was nog altyd n briljante akteur. Wat n slegte smaak in die mond los,is sy seksuele opdringerigheid en teistering. Of jy nou gay of “straight” is, of jy nou briljant talentvol of maar vervelig is, Daardie tipe gedrag is altyd verkeerd. En sal hom hordes aanhangers se respek en aanhang kos. Wat n jammerte dat hy hom nie kan gedra nie!

VanAfrika ·

Baie goeie akteur ja, maar het hom altyd grillerig gevind, nou weet ek hoekom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.