Nóg skandale en seksuele aantygings sien die lig

James Toback (Foto: Georges Biard via Wikimedia Commons)

Nóg bewerings van seksuele vergrype is die afgelope week deur talle bekendes gemaak – dié keer teen die akteur en regisseur Dustin Hoffman, die draaiboekskrywer James Toback en die rolprentvervaardiger Brett Ratner.

Hoffman, Toback en Ratner se lewens is vandeesweek in dié onstuimige waters gedompel nadat verskeie hoëprofiel-bekendes met bewerings van seksuele toenadering en teistering vorendag gekom het.

Dié rolprentbase se name is by dié van ʼn lys bekendes in die rolprentwêreld gevoeg soos Harvey Weinstein, Kevin Spacey en Jeremy Piven, na wie die vinger ook gewys word.

Nadat bewerings van seksuele teistering en aanranding die afgelope naweek in ʼn artikel in The Los Angeles Times teen Toback gemaak is, het talle bekende akteurs na vore gekom om ook hul ervarings met die draaiboekskrywer te deel. Meer as 200 vroue, wat die aktrises Selma Blair en Rachel McAdams insluit, het sedert die naweek bewerings van dié aard teen hom geopper.

Volgens die bewerings het Toback sy beweerde slagoffers ʼn loopbaan in die rolprentbedryf belowe waarna hy hulle én homself sou betas het.

Blair het in dié artikel met The Los Angeles Times gesê sy was pas klaar met die verfilming van die fliek Cruel Intentions toe haar verteenwoordiger ʼn vergadering met Toback gereël het vir ʼn moontlike rol in sy fliek Harvard Man. By haar aankoms by die hotelrestaurant het hy versoek dat sy  na sy kamer gaan. Hy het haar gevra om haar dialoog kaal voor te lees en gesê sy mag nie die kamer verlaat voordat hulle saam geslaap het nie. Volgens die aktrise het hy homself op haar afgedwing en haar betas.

Harvey Weinstein (Foto: YouTube)

Hoffman wat twee Oscars as beste akteur verower het, loop ook onder skerp kritiek deur. Die akteur het vandeesweek gesê die aantygings teen hom “weerspieël nie wie hy is nie”. Dit volg nadat die skrywer Anna Hunter hom daarvan beskuldig het dat hy haar 32 jaar gelede, toe sy 17 jaar oud was, geteister het op die stel van die fliek Death of a Salesman. Hunter het gesê hy het haar betas en voortdurend voor haar oor seks gepraat.

“Ek vra om verskoning as enigiets wat ek gedoen het haar moontlik in ʼn ongemaklike situasie geplaas het. Ek is jammer. Dit is nie reflekterend van wie ek is nie,” het hy gesê.

Kevin Spacey (Foto: Georges Biard via Wikimedia Commons)

ʼn Storm het ook om Ratner se kop losgebars nadat die bekende Amerikaanse aktrise Olivia Munn hom daarvan beskuldig het dat hy haar én ander aktrises betas het, hulle in badkamers in agtervolg het en konstant seksuele toenadering gesoek het. Munn het gesê Ratner het homself voor haar betas terwyl sy saam met hom aan projekte gewerk het.

Nadat Weinstein vroeër verlede maand daarvan beskuldig is dat hy minstens drie vroue verkrag en tien ander seksueel geteister het, het meer as 50 vroue vorendag gekom om ook hul name by die lys van geteisterdes te voeg. Dié lys sluit bekendes soos Cara Delevingne, Angelina Jolie, Gwyneth Paltrow en Rose McGowan in.

Kevin Spacey, die akteur wat nou reeds ʼn Emmy kwyt is én moes hoor dat die vervaardiging van die TV-reeks House of Cards voorlopig tot stilstand gekom het weens die aantygings teen hom, is ook reeds deur ʼn tweede akteur van teistering beskuldig nadat ʼn eerste aantyging Maandag aan die lig gekom het. Roberto Cavazos, ʼn Mexikaanse akteur, het ook nou beweer dat Spacey hom teen sy wil betas het.

Die polisie is reeds besig met kriminele ondersoeke teen Weinstein en Toback. Albei ontken steeds ten sterkste dat hulle enigiets te doen gehad het met die voorvalle waarvan hulle beskuldig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eish ·

Verskoning vir spelfout in Lukas aanhaling – moet lees – verborge.

Sonja ·

Baie dankie vir die eerste vrou wat ‘n klag ingedien het teen Harvey Weinstein. Nou kom vele na vore wat hulle ervarings jare moes dra en nooit klagtes ingedien het nie.

Helen ·

Ja soos hulle se….die wiel draai al draai hy stadig maar draai draai hy en wat ookal jy doen dit kom een of ander tyd uit op die onmoontlikste en minder verwagte tyd!!

Callie ·

So lank na die tyd. Gewillig gewees toe hulle wou naam maak. Nou soek niemand hulle meer nie, so kom nou uit met die. Regtig, hoe kan jy na 20 jaar eers daaroor praat. Ek glo jou glad nie. Geen rede hoekom jy nie toentertyd gepraat het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.