Nóg sterf, talle soek ná Haïti-aardbewing

Inwoners aanskou ʼn skool wat ineengestort het in Saterdag se aardbewing. (Foto: AP/Dieu Nalio Chery)

Reddingswerkers in Haïti het Maandag gespesialiseerde toerusting en hul hande gebruik om na oorlewendes onder geboue wat Saterdag deur ’n massiewe aardbewing platgevee is, te soek.

Dít terwyl vrese vir die tropiese storm Grace wat op pad is, skerp toeneem.

Maroela Media het vroeër berig dat dié aardbewing van 7,2 ongeveer 160 km wes van die digbevolkte hoofstad Port-au-Prince plaasgevind het.

Die aardbewing het reeds minstens 1 400 lewens geëis, terwyl bykans 7 000 mense beseer is.

Volgens plaaslike owerhede is meer as 37 000 huise, asook derduisende geboue, vernietig.

Onder dié geboue is ʼn historiese kerk in Les Anglais wat in 1907 opgerig is.

Minstens 17 kerkgangers, onder wie ʼn drie-jarige kind, is dood toe die kerkgebou ineengestort het.

“Die oudste kerkganger was 24 jaar oud. ʼn Vrou het ook albei haar kinders van onderskeidelik 18 en drie jaar oud, verloor,” het priester Wilson Exantus Andre gesê.

“Dis werklik ʼn tragedie. Ons kan nie glo hoe vinnig alles inmekaargetuimel het nie,” het een van die oorlewendes gesê.

Intussen neem hospitaalopnames by die dag toe.

Mense loop Sondag in ‘n nat Port-au-Prince, Haiti. (Foto: AP Photo/Dieu Nalio Chery)

“Op ’n sielkundige vlak gaan dit nie baie goed met ons nie. Ons het absoluut geen idee hoe ons hierdeur gaan kom nie,” sê Aline Cadet (26), ’n vroedvrou wat by ’n hospitaal in die dorp Port-Salut, gehelp het.

“Hier is vrouens wat swanger was, maar hul babas verloor het omdat hulle geval of seergekry het.”

Boonop kan Grace tot swaar reënval, kitsoorstromings en modderstortings lei.

Volgens die Amerikaanse nasionale orkaansentrum (NHC), Haïti en die Dominikaanse Republiek – wat die Karibiese eiland Hispaniola deel – kan reënval tydens dié storm tot 254 mm wees en in sommige gebiede moontlik tot 381 mm.

Die land is in Januarie 2010 ook deur ʼn massiewe aardbewing geruk wat die lewens van meer as 200 000 mense geëis het.

Die jongste aardbewing kom net meer as ʼn maand nadat Haïti se president, Jovenel Moise, in ʼn sluipaanval vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.