Vulkaniese trillings het Woensdag beduidend op Witeiland in Nieu-Seeland toegeneem, wat beskou word as ʼn aanduiding dat vulkaniese gasdruk hoog bly.
Minstens ses mense is dood, agt word nog vermis en meer as 30 mense is beseer toe die vulkaan op die eiland, ook bekend as Whakaari-eiland, Maandag uitgebars het. Die vulkaan op die eiland is een van die aktiefste vulkane in Nieu-Seeland.
Daar is vroeër berig altesaam 47 mense was op die eiland toe die vulkaan uitgebars het. Dit sluit in 24 Australiërs, nege Amerikaners, vyf Nieu-Seelanders, vier van Duitsland, en twee elk van China, Engeland en Maleisië. Die vulkaan is ʼn groot trekpleister vir vulkanoloë en adrenalienverslaafdes wat van reg oor die wêreld daarheen stroom om na onder meer die borrelende modderpoele en geo-termiese strome te kyk.
Die meeste besoekers was op ʼn daguitstappie op die eiland toe die vulkaan uitgebars het. Dít op sigself het talle vrae laat ontstaan, omdat hulle op die eiland was ten spyte van ʼn onlangse toename in vulkaniese aktiwiteit. Reuters het berig toeroperateurs is egter nié gevra om die tientalle besoekers eergister van die eiland weg te hou nie.
Die situasie op die eiland is steeds nie stabiel nie en GeoNet, ʼn Nieu-Seelandse navorsingsdiens, het gesê nog uitbarstings kan binne die volgende 24 uur voorkom.
Die voortgesette trillings het boonop beteken die polisie kon nie die liggame van agt slagoffers op die eiland herwin nie. “Dit is tragies. Ons stem almal saam dat die herwinning van die liggame absoluut noodsaaklik is,” het Sarah Stuart-Black, direkteur van die departement van burgerlike verdediging, gesê.
Sy het gesê elke dag wat die liggame op die eiland bly, veroorsaak voortgesette lyding vir die slagoffers se familielede, maar dat veiligheid in dié stadium voorrang geniet.
Die polisie is gereed om weer op die eiland ontplooi te word, maar weens die gevaar van ʼn uitbarsting word die herwinning van die liggame uitgestel.
Intussen is 22 van die slagoffers van eergister se uitbarsting nog aan asemhalingstoestelle gekoppel, en dokters beoog om 1,2 miljoen cm² se vel te bestel om hul wonde te behandel.
Sommige pasiënte het 90% tot 95% brandwonde opgedoen, het dr. Peter Watson, mediese hoof van Counties Manukau Health, gesê.
In dié stadium word 29 pasiënte in brandeenhede by ses verskillende hospitale behandel. Dit is ʼn ongekende getal op een slag, het Watson gesê.
Tot tien beseerde Australiërs sal na verwagting binne die volgende 24 uur huis toe vertrek mits hul toestand stabiel genoeg is vir die reis.