Non (117) vier verjaarsdag met glasie wyn, gebed

Suster André vier haar 117de verjaarsdag (Skermgreep uit die video)

Europa se oudste persoon, die Franse non, suster André, het Donderdag haar 117de verjaarsdag gevier ná sy al twee wêreldoorloë en verlede maand Covid-19 oorleef het. Sy het ʼn spesiale verjaarsdagviering gehad met haar gunstelingnagereg – Baked Alaska.

Suster André (Lucile Randon), wat op 11 Februarie 1904 gebore is, het gesê sy het nie besef sy het die koronavirus opgedoen nie. Minstens 81 inwoners van die aftreeoord waar sy in Toulon, Frankryk, woon het Covid-19 opgedoen en 10 het gesterf.

“Hulle het vir my gesê ek het die virus,” het die non Woensdag aan AFP gesê waar sy in die wintersonnetjie sit en bak het met haar oë gesluit en haar hande saamgevou in gebed. “Ek was baie moeg, dis waar, maar ek het dit nie besef nie,” het sy in ʼn bestendige, sterk stem gesê wat glad nie haar ouderdom verklap nie.

David Tavella, woordvoerder vir die Sainte Catherine Laboure-versorgingsoord, het gesê sy het “ʼn driedubbele afsondering beleef – in haar rolstoel, in haar kamer, en sonder enige besoekers”. “Haar verjaarsdag is dus vir ons soos ʼn hupstoot.”

Suster André is oorval met oproepe van verslaggewers om die wêreld heen. Sy het egter nie enigiets spesiaal vir haar 117de verjaarsdag beplan nie. Die tehuis het egter ander planne gehad – ʼn viering en ʼn video-oproep met haar familie.

Sy sê haar gunstelingdis is kreef en sy “geniet ʼn klein glasie wyn elke dag”.

Sy was die enigste sussie met drie broers. Een van haar gunstelingherinneringe is toe twee van haar broers ná die Eerste Wêreldoorlog teruggekeer het huis toe. “Dit was ʼn seldsame geleentheid vir gesinne. Daar was gewoonlik eerder twee dood as twee wat oorleef het. Hulle het albei teruggekom huis toe.”

Suster André is die tweede oudste persoon in die wêreld, aldus die Gerontology-navorsingsgroep. Die oudste persoon is ʼn Japannese vrou, Kane Tanaka, wat reeds haar 118de verjaarsdag gevier het.

Suster André se raad aan jongmense: “Wees dapper en wees barmhartig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hydi ·

Baie geluk aan haar, maar hoë ouderdom is net moeite en verdriet

Gatvol... ·

Wat bedoel jy hierby? As dit haar tyd was om die hede vir die ewige te verruil, sou dit al plaas gevind het. Ek vind dit wonderbaarlik dat sy op hierdie ouderdom nog genoeg krag het om dinge te doen. Gun haar haar laaste jare, sy het dalk nog werk op aarde om te doen voor God haar kom haal.

Francois Le Cochon ·

Hydi, sy kan nog wyn drink en bid. Jou stelling is dus nie van toepassing op haar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.