Nonne in Nigerië ontvoer

Argieffoto (Foto: James Chan/Pixabay)

Gewapende mans het vier Katolieke nonne in Imo, Nigerië, ontvoer, het die polisie Maandag gesê. Dit is die jongste geweld in ʼn streek waar separatistiese spanning al hoe meer toeneem.

Ontvoerings deur bendes kom gereeld voor in Afrika se mees dig bevolkte land, maar Christelike kerke is die afgelope paar weke al hoe meer geteiken. Meeste gyselaars word ná ʼn losprys vrygelaat, maar sommige word vermoor.

“Vier susters van die Katolieke Kerk is ontvoer,” het Michael Abattam, polisiewoordvoerder vir die Imo-staat, aan AFP gesê. Hy sê die nonne is Sondag naby Okigwe gegryp. Hulle was op pad na ʼn kerkdiens.

“Ons is op die spoor van die ontvoerders en sal poog om die slagoffers vry te laat,” het hy bygevoeg. Hy kon nie dadelik sê wat die motief vir die ontvoering is nie, omdat geen groep nog aanspreeklikheid aanvaar het nie.

Die suidoostelike dele van Nigerië beleef ʼn oplewing van geweld wat toegeskryf word aan die onwettige Inheemse Mense van Biafra (Ipob) of sy gewapende vleuel ESN.

Ipob streef na ʼn afsonderlike staat vir etniese Igbo-mense en ontken aanspreeklikheid vir geweld in die gebied. Meer as 100 polisiebeamptes en ander veiligheidspersoneel is sedert die begin van verlede jaar dood in geteikende aanvalle in die streek, aldus plaaslike media se statistieke. Tronke word ook geteiken en talle gevangenes is bevry en wapens is gesteel.

Nnamdi Kanu, leier van Ipob, is sedertdien in aanhouding en staan tereg op aanklag van hoogverraad.

Separatisme is ʼn sensitiewe kwessie in Nigerië waar die verklaring van ʼn onafhanklike Republiek van die Biafra in 1967 deur Igbo-soldate tot ʼn burgeroorlog gelei het. Meer as 1 miljoen mense is in dié burgeroorlog dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.