Noodoperasie ná tronkvoël selfoon sluk

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Gevangene in ʼn tronk in Serwië moes vandeesweek ʼn noodoperasie ondergaan nadat hy ʼn selfoon ingesluk en vier dae lank daarmee in sy maag rondgeloop het. Daar word vermoed dat die gevangene die foon by die tronk wou insmokkel.

Die 33-jarige gevangene, wie se besonderhede weerhou word, is verlede week by die Pristina-universiteitshospitaal in Kosovo, ʼn gedeeltelik erkende staat in Suidoos-Europa, opgeneem. Hy het glo dae lank oor ʼn maagpyn gekla.

Skender Telaku, ʼn chirurg by dié hospitaal, het met behulp van ʼn endoskopie besef dat daar ʼn klein selfoon vanuit die vroeë 2000’s in die man se maag is. ʼn Endoskopie is ʼn nie-indringende prosedure wat gedoen word sonder om aan pasiënte te sny.

“Die operasie het sowat twee uur geduur en op die ou end het ons die selfoon in drie dele uitgehaal. Ons moes versigtig werk omdat die foon se batterysuur in sy maag kon uitloop. Gelukkig het alles vlot verloop,” het Telaku gesê.

Dit is nog nie duidelik hoe of hoekom die gevangene die selfoon ingesluk het nie.

Die mediese span wat die man behandel het, is oortuig daarvan dat die selfoon by die tronk ingesmokkel is om onwettig met die buitewêreld kontak te maak.

Die polisie het kort daarna die selfoon en die gevangene terug na die tronk geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

As die foon lui, het hy op sy naeltjie gedruk om te antwoord?

Caroline ·

Why waste valuable tax money on doing an operation leave it there he wanted it there as it is in a safe place

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.