Noodoperasie vir Sir Alex Ferguson

Sir Alex Ferguson (Foto: Manchester United)

Sir Alex Ferguson, die legendariese voormalige bestuurder van Manchester United, moes ʼn noodoperasie ondergaan en is Saterdag na ʼn hospitaal gehaas uit vrees vir sy gesondheid.

Die 76-jarige Ferguson het by sy huis in Cheshire geval en is vinnig met ʼn ambulans na Macclesfield-distrikshospitaal geneem vir bloeding op die brein, het die UK MailOnline berig.

Die Skot is vinnig met polisiebegeleiding oorgeplaas na Salford Royal waar hy ʼn operasie ondergaan het en is nou in die hoësorgeenheid opgeneem.

Manchester United het intussen gesê die operasie het goed afgeloop maar hy moet nog intensiewe behandeling ontvang. “Almal by Manchester United wens hom alle sterkte toe.”

Sy familie het privaatheid versoek in hierdie tyd.

Ferguson, gebore in Skotland, was van 1986 tot 2013 die bestuurder van Manchester United. Talle spelers, bestuurders en analiste beskou hom as een van die beste en mees suksesvolle bestuurders van alle tye.

Hy woon in Wilmslow, Cheshire saam met sy vrou Cathy. Hulle het drie seuns Mark (gebore 1968) en ʼn tweeling Darren en Jason (gebore 1972).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.