Noodtoestand afgekondig ná aanval op Haïti-tronk

Die nasionale gevangenis in Port-au-Prince. (Foto: Luckenson JEAN / AFPTV / AFP)

Die regering van Haïti het Sondag ʼn noodtoestand én aandklokreël afgekondig om beheer oor dié krisisgeteisterde Karibiese land te probeer herwin nadat bendes die nasionale gevangenis in Port-au-Prince aangeval het.

Duisende gevangenes het uit aanhouding ontsnap toe die fasiliteit Saterdag tot Sondag oornag aangeval is. Talle is dood.

Teen Sondag was maar sowat 100 van die nasionale gevangenis se geskatte 3 800 gevangenes nog binne die fasiliteit, sê Pierre Esperance van die nasionale netwerk vir verdediging van menseregte.

“Ons het baie gevangenes se liggame getel,” vertel Esperance.

Die dodelike aanval vorm deel van ʼn nuwe vlaag van uiterste geweld in die Haïtiaanse hoofstad, waar gewapende bendes (wat ʼn groot deel van die stad beheer) vanaf Donderdag weer verwoesting begin saai het.

Die bendes dring daarop aan dat premier Ariel Henry, wat sedert die sluipmoord op pres. Jovenel Moise in 2021 aan bewind is, uittree.

Die Haïtiaanse dagblad Le Nouvelliste berig aanvallers het vanaf Donderdag op die nasionale gevangenis in Port-au-Prince met behulp van hommeltuie gespioeneer voordat hulle vroeg Saterdagaand toegeslaan het.

Die nasionale gevangenis in Port-au-Prince. (Foto: Luckenson JEAN / AFPTV / AFP)

Bendelede het aldus die polisie ook ʼn tweede tronk genaamd Croix des Bouquets aangeval. Die tronk het plek vir 1 450 gevangenes.

Dit was egter nie onmiddellik duidelik hoeveel van dié gevangenes tydens dié aanval ontsnap het nie.

Le Nouvelliste berig berugte bendeleiers en mense wat aangekla word van die sluipmoord op Moise was onder diegene wat in die hooftronk, wat ʼn paar honderd meter van die Nasionale Paleis geleë is, aangehou word.

Die Haïtiaanse regering het Sondagaand laat in ʼn verklaring gesê veiligheidsmagte het “bevel ontvang om alle wettige middele tot hul beskikking te gebruik om die aandklokreël af te dwing en diegene wat dit oortree, aan te hou”.

Die aandklokreël sal in dié stadium tot Woensdag daagliks van 18:00 tot 05:00 in die Ouest-streek afgedwing word.

Die aandklokreël én noodtoestand kan ook verleng word.

Die regering glo dié maatreëls sal hom toelaat om “orde te herstel en die toepaslike maatreëls te tref om beheer oor die situasie terug te neem”.

Patrick Michel Boisvert, minister van ekonomie, het die verklaring as die land se waarnemende premier onderteken aangesien Henry ten tyde van die aanval in die buiteland was.

Henry is sedert verlede week in Kenia om ʼn ooreenkoms te onderteken om polisie van die Oos-Afrikaland te ontplooi om ʼn VN-gesteunde wet-en-orde-sending na die bendegeteisterde nasie te lei.

Dit was Sondag nie onmiddellik duidelik of Henry intussen na Haïti teruggekeer het nie.

Haïti se regering is berug vir sy swak bekamping van ontvoerings en ander gewelddadige misdaad wat hoogty vier.

Daar word ook gesê dat bendes in dié land baie beter gewapen as die polisie self is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

hpven ·

Die gebou se toestand in ag geneem, hoef mens nie te ontsnap, stap sommer uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.