Noodtoestand in Egipte ná dodelike bomaanvalle

(Foto: Xinhua)

Pres. Abdel Fattah al-Sisi van Egipte het Maandag ʼn noodtoestand van drie maande afgekondig nadat tientalle mense dood is in twee afsonderlike bomaanvalle.

Die bomaanvalle het die lewens van minstens 46 mense geëis en meer as 100 mense is beseer. Die aanvalle kom minder as ʼn week voor die viering van die Koptiese Paasfees.

Die eerste bomaanval was Sondag by die St. George-kerk in Tanta waar 29 mense dood en ongeveer 71 beseer is. Die tweede bomaanval was ʼn paar uur later in Alexandrië in die St. Markus-katedraal waar 17 mense dood en minstens 48 beseer is.

Duisende mense het Maandag in die noordelike deel van Egipte bymekaar gekom om hul geliefdes te begrawe. “Ons is hartseer om hulle te verloor, maar hierdie martelare is nou in die hemel saam Christus,” het ʼn biskop tydens die roudiens in Alexandrië gesê.

Nagwa al-Naggar, ʼn polisievrou, is ook Maandag begrawe, met haar liggaam toegedraai in die Egiptiese vlag. Sy is die eerste polisievrou in Egipte wat dood is. Sy het diens gedoen by die katedraal in Alexandrië.

Die Islamitiese Staat (Isis) het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar en waarsku dat daar nog meer aanvalle op Christene, wat 10% van die Egiptiese bevolking uitmaak, sal wees.

Maandag is sewe Isis-soldate in ʼn skietgeveg deur die polisie doodgeskiet. Intussen het Israel sy grens met Egipte gesluit om ʼn terreuraanval te probeer voorkom. Net na dié besluit is ʼn vuurpyl van die Sinaï-skiereiland afgevuur waarvoor Isis ook verantwoordelikheid aanvaar het.

In Desember is minstens 30 mense dood en 50 ernstig beseer toe ʼn ploftoestel in die vernaamste Kopties-Christelike Kerk in Kaïro ontplof het. In 2011 is minstens 23 mense dood in ʼn ontploffing by die Kerk van die twee heiliges in Alexandrië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hawies ·

Tel julle seeninge mense hier in SA. Hou op moan. Kyk net watter gemors gaan aan in die res van die wereld.

paula ·

Sal ons wat ons geloof vrylik kan uitleef ooit besef hoe geseend ons is. Ongeag jou geloof.

sharon ·

Ek dink ook ons het eintlik geen rede om meer te kla nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.