ʼn Bussie wat naby ʼn Sri Lankaanse kerk geparkeer was, het Maandag ontplof, maar niemand is in dié ontploffing beseer nie.
Polisiebeamptes het Maandag gaan ondersoek instel by die bussie nadat mense die voertuig wat al sedert gister naby die St. Anthony-kerk geparkeer staan, by die polisie aangemeld het. Hulle het drie bomme in die voertuig ontdek wat hulle probeer ontlont het, hoewel die bomme afgegaan en omstanders in paniek laat weggehardloop het.
ʼn Reeks bomontploffings Sondag het die lewe van minstens 290 mense geëis insluitend 27 buitelanders. Ongeveer 500 mense is in die ontploffings beseer.
Beamptes het gesê 24 verdagtes is tans in aanhouding en word ondervra.
Owerhede sê hulle het 87 bomontstekers in die hoofstad, Colombo, gevind. Ruwan Gunasekara, woordvoerder van die polisie, sê 12 ontstekers is Maandag by Colombo se hoofbusdepot gevind en ure later is nóg 75 ontstekers by ʼn vullisterrein in die omgewing gevind.
Gunasekara wou nie bevestig of die ontstekers verband hou met die reeks ontploffings wat gister plaasgevind het nie.
Intussen het Sri Lanka se nasionale veiligheidsraad Maandag aangekondig dat ʼn “voorlopige noodtoestand” van middernag ingestel sal word. ʼn Mediaverklaring deur die presidensie verwys na mediaberigte oor die bestryding van terreur as rede vir die noodtoestand.
Volgens die verklarings sal noodmaatreëls op terreur gemik wees en sal dit nie vryheid van uitdrukking beperk nie.
ʼn Nasionale dag van rou sal Dinsdag gehou word vir die 290 mense wat gister in die ontploffings by drie luukse hotelle, drie kerke, ʼn huis in Dematagoda en ʼn gastehuis gesterf het.
Deense media het intussen berig drie kinders van ʼn Deense sakemagnaat, wat na bewering dié land se rykste man is, het in die ontploffings gesterf. Volgens TV2 was Anders Holch Povlsen (46) en sy vrou, Anne, saam met hul kinders in Sri Lanka op vakansie toe die ontploffings plaasgevind het. Talle media berig dat drie van Povlsen se vier kinders in die ontploffings dood is, maar die name van die kinders is nog nie bekendgemaak nie.
Povlsen is die eienaar van die internasionale klerekettinghandelsmerk Bestseller, asook die grootste enkelaandeelhouer van die klerereus Asos. Hy is ook Brittanje se grootste private grondeienaar.
Sri Lanka se diplomatieke verteenwoordiger in Brittanje het intussen ook bevestig dat agt Britse burgers in die ontploffings gesterf het. Australië se eerste minister het gesê twee Australiese burgers is dood en nog twee beseer.
Volgens berigte is twee Chinese burgers in die ontploffings dood, terwyl owerhede in Indië bevestig het dat vyf van dié land se burgers in die tragedie omgekom het. Minstens een Portugese burger en Japanse burgers is ook onder die oorledenes.
Sjoe, al die geld van die Deense rykste man sal nie sy 3 kinders kan terug bring nie. So hartseer. Die wreedaards
n’ Lafhartige manier van oorlog maak. Dis baie mense wat dood is so hulle het nou hul punt bewys. Die wereld raak siek!
Ek dink nie die Deen is meer baie lief is SL nie!!!
Wat besiel hulle om soveel verwoesting te saai? Iemand is van sy/hulle kop af!!!
Ek het Sri Lanka in 2017 besoek en was ingenome met die land en sy mense. Pragtige eiland! Mense is brandarm, maar geensins misdadig teenoor toeriste nie. En nou is alles daarmee heen! Hoe jammer. Die land het maar pas begin opstaan na dekades van konflik en ander rampe.
Hoe boosaardig en sonder gevoel moet iemand wees om so iets te doen.
So wanneer gaan die Moslem Imams die aanvalle veroordeel en saam met hul katolieke huigelaar boeties handjies vashou en bid?