Noodtoestand in Zim oor cholera

zimbabwe

Argieffoto

Die Zimbabwiese regering het Dinsdag ʼn nasionale noodtoestand verklaar ná ’n cholera-uitbreking in dié land.

Obadiah Moyo, minister van gesondheid en kindersorg, het dié noodtoestand verklaar ná ’n onlangse besoek aan die Beatrice Road-hospitaal vir infeksiesiektes.

Byna 2 000 gevalle van cholera is reeds aangemeld met die dodetal wat tot 20 gestyg het.

Dié uitbreking het glo in Glen View en Budiriro, woonbuurte in Harare, begin voordat dit na die Midlands- en Manicaland-provinsies versprei het. “Ons verklaar ʼn noodtoestand in Zimbabwe. Dit sal ons in staat stel om die cholera, tifus of wat ook al aangaan op te klaar. Ons wil geen verdere sterftes hê nie,” het Moyo gesê.

Moyo het ook aanbeveel dat ʼn laerskool in Harare sy deure tydelik sluit. Volgens Moyo het die regering klasse by die Glen View 5-laerskool opgeskort sodat die stadsraad van Harare watertoevoer by die skool kan herstel nadat minstens 20 leerlinge met cholera in die hospitaal opgeneem is.

Die stadsraad kon bevestig dat gesondheidsbeamptes die besmetting aan ʼn gebarste rioolpyp by die skool toeskryf wat gelei het tot die besoedeling van boorgatwater wat inwoners in die geaffekteerde gebiede daagliks gebruik.

Boorgate in dié gebiede is sedertdien met cholera-entstowwe behandel.

Volgens Gerald Gwinji, sekretaris van gesondheid en kindersorg, is die Zimbabwiese regering baie bekommerd oor die aantal cholera-sterftes wat reeds aangeteken is.

“Ons betreur die verlies van lewens en moedig almal aan wat vermoed dat hul met cholera besmet is om so gou moontlik by hul naaste kliniek aan te klop,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JJ ·

Ons gaan seker nou weer bakhand staan voor die westerse lande?

marous ·

Dit wat in hierdie land gaan uitbreek gaan zim soos ‘n ligte maagpyn laat lyk …..

henk ·

Jy is reg Marous.
Dan kom die siektes soos hierbo genoem ook nog by want hulle gaan nog hiernatoe stroom vir hospitale – wat nie by ons bestaan nie.
Die hospitale is ook klaar vernietig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.