Noord-Korea het, by monde van die amptelike Noord-Koreaanse nuusagentskap KCNA, die VSA met “rampspoedige gevolge” gedreig en al sy weermageenhede op die hoogste vlak van gereedheid geplaas.
Noord-Korea se reaksie kom nadat ‘n aantal Amerikaanse oorlogskepe en ‘n vliegdekskip in ‘n Suid-Koreaanse hawe aangekom het. Dit maak deel uit van gereelde gesamentlike militêre oefeninge tussen Suid-Korea en die VSA.
Noord-Korea se jongste dreigemente word egter nie ernstig opgeneem nie en word vertolk as deel van Noord-Korea se gereelde “vloermoere om aandag te trek”, soos dit al beskryf is.
Noord-Korea beleef gereelde hongersnood, en besweer binnelandse ongelukkigheid deur vir die wêreld vuis te wys, soos hier weer die geval is.
Noord-Korea het onlangs ook gedreig om die wapenstilstand met Suid-Korea eensydig op te hef weens gewaande aggressie uit die suide. In Maart vanjaar het Noord-Korea – ‘n kernmoondheid – die VSA, Suid-Korea en Japan gedreig met kernaanvalle.
Die VSA sen Suid-Korea het verlede week ‘n nuwe miliêre ooreenkoms onderteken.
Japan het sy pasifistiese grondwet begin hersien, hoofsaaklik om beter in staat te wees om aggressie vanaf Noord-Korea die hoof te kan bied.