Noord-Korea sê VN-sanksies is ‘ʼn oorlogsdaad’

Kim Jong Un

Foto: AP Photo/Wong Maye-E.

Noord-Korea het Sondag die jongste sanksies van die Verenigde Nasies om dié land te teiken, as ʼn “oorlogsdaad” beskryf wat sy soewereiniteit bedreig en gesê dit is ʼn “droom” van Amerika as die land dink Noord-Korea sal van sy kernwapens ontslae raak.

Die VN se veiligheidsraad het Vrydag eenparig nuwe sanksies teen Noord-Korea goedgekeur in reaksie op die jongste lansering van ʼn ballistiese missiel wat enige plek in die VSA kan tref. Die resolusie is deur Amerika opgestel en met China onderhandel.

“Hierdie sanksie-resolusie is ʼn growwe skending van die soewereiniteit van ons Republiek, en dit is ʼn oorlogsdaad wat vrede en stabiliteit in die Koreaanse skiereiland bedreig. Ons verwerp hierdie resolusie,” het Noord-Korea se ministerie van buitelandse sake in ʼn verklaring gesê.

Die ministerie het gesê die sanksies kom neer op ʼn “algehele ekonomiese versperring” van Noord-Korea.

“As Amerika in veiligheid wil leef, moet hy sy vyandige beleid teen DPRK [Demokratiese Volksrepubliek van Korea] laat vaar en leer hoe om saam met die land te werk wat kernwapens het,” lui die verklaring, wat deur die amptelike Koreaanse Central News Agency gepubliseer is.

Die resolusie plaas ʼn beperking op Noord-Korea se olie-invoere; alle Noord-Koreane wat oorsee werk moet binne 24 maande na hul land terugkeer; en daar is ook ʼn beperking op die skepe wat steenkool en olie na en van die land smokkel.

Die resolusie sluit egter nie strenger maatreëls in wat die Trump-administrasie vereis het nie, insluitend ʼn verbod op alle olie-invoere en dat die internasionale bates van die regering en sy leier, Kim Jong Un, gevries moet word.

Rusland het die resolusie veroordeel vir die kort tydperk wat die VN se veiligheidsraad aan ander lande gebied het om dit te oorweeg en veranderinge aan die teks ter elfder ure. Twee van dié veranderinge is om die spertyd vir Noord-Koreaanse werkers van 12 maande na 24 maande te verleng, en die getal Noord-Koreane wat op die VN se sanksieslys geplaas is, van 19 tot 15.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan ·

Nostradamus het voorspel die 3 de wêreld oorlog begin in 2018 dit lyk of hy reg gaan wees.

Mv ·

Daan, ek dink jy moet ook net bitjie die voorspellings van Nostradamus gaan lees oor die laaste 2 jaar wat verby is, dis nogal iets om oor te lag :)

Mvn ·

O ja en hy het ook die begin van die 2de wereld oorlog voorspel in 2016

HPV ·

Kim se obsessie met die VSA plaas dit hom en sy land op ‘n selfmoordsending! Hy leef ‘n droom as hy dink een van sy missiele sal Amerika haal. Die omgekeerde is wel moontlik dat Amerika uit selfverdediging sy land binne minute in ‘n brandende ashoop kan verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.