Noorweë: ‘Geen hoop om oorlewendes te vind’

Foto: Cornelius Poppe/NTB/AFP

Reddingswerkers in Noorweë sê daar is geen hoop meer om oorlewendes te vind ná verlede week se grondverskuiwing in Ask, ʼn dorp in die Gjerdrum-munisipaliteit, nie.

Drie mense word steeds vermis terwyl sewe liggame reeds gevind is. Ida Melbo Oystese, polisiehoof vir die oostelike distrik van Noorweë, het Dinsdag gesê al die gebiede is deursoek waar dit moontlik denkbaar is dat iemand oorleef het. “Ons het alles in ons vermoë gedoen.”

Die soektog na die drie vermiste persone se liggame gaan egter steeds voort. Reddingspogings moes vroeër Dinsdag tydelik gestaak word toe die grond weer begin skuif het, hoewel niemand beseer is nie.

Premier Erna Solberg het gesê die grondverskuiwing was “een van die grootstes” wat Noorweë nog beleef het.

Die tragedie het vroeg Woensdagoggend in Ask, sowat 25 km noordoos van die hoofstad, Oslo, afgespeel. Onder die oorledenes is ʼn man, sy swanger vrou en hul tweejarige dogtertjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.