Noorweë-tragedie: Nog liggame gevind  

Foto: Jil Yngland/NTB/AFP

Reddingswerkers het ʼn sewende liggaam gevind ná verlede week se grondverskuiwing in Ask, ʼn dorp in die Gjerdrum-munisipaliteit in Noorweë.

ʼn Tweejarige meisie en haar pa is onder die oorledenes. Die tragedie het vroeg Woensdagoggend in Ask, sowat 25 km noordoos van die hoofstad, Oslo, afgespeel. Verskeie huise is verwoes en drie mense word steeds vermis.

Bjorn Christian Willersrud, polisiewoordvoerder, het gesê daar word steeds gehoop dat oorlewendes gevind sal word. “Dit is steeds ʼn reddingsoperasie tot ons anders besluit.”

Die polisie het gesê die sewende liggaam is gevind naby aan die plek waar twee ander liggame vroeër gevind is, maar het geen verdere besonderhede gegee nie. Die reddingspanne, wat deur snuffelhonde, helikopters en hommeltuie bygestaan word, het Sondag drie liggame gevind nadat daar Saterdag een liggaam gevind is en die eerste drie liggame Vrydag gevind is.

Foto: Cornelius Poppe/NTB/AFP

Vyf van die sewe oorlewendes is reeds geïdentifiseer. Dit sluit ʼn vrou in haar 50’s en haar 29-jarige seun en ʼn 40-jarige man en sy tweejarige dogter in.

Die polisie het vroeër die name van al tien vermiste mense gepubliseer. Tien mense is ook in die grondverskuiwing beseer.

Ongeveer 1 000 mense van die dorp se bevolking van 5 000 moes die omgewing verlaat weens vrees vir die veiligheid van hul huise namate die grond bly beweeg.

Koning Harald, sy vrou, koningin Sonja, en kroonprins Haakon het reddingswerkers Sondag besoek en in ʼn kerk kerse ter herinnering aan die oorledenes aangesteek.

“Ek sukkel om iets te kry om te sê, want dit is absoluut aaklig,” het die koning na afloop van die besoek gesê. “Hierdie verskriklike gebeurtenis raak ons almal. Ek het simpatie met julle wat die nuwe jaar met hartseer en onsekerheid begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.